Nuus 18:00
BULLETIN 5 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie voer deursoeking en beslaglegging uit op Brown Mogotsi
# Onvoldoende bewyse lei tot die vrylating van die verdagte in die Reigerpark-massaskietery
# En, FlySafair bevestig sy bedrywighede is normaal ondanks die staking
# Die polisie het na ‘n lasbrief vir deursoeking en beslaglegging teen die omstrede sakeman, Brown Mogotsi, op ‘n aantal toestelle beslag gelê. Mogotsi word vir bedrog, korrupsie en regsverydeling ondersoek. Polisie-woordvoerder Athlenda Mathe, sê Mogotsi, wat Sondag ‘n vermeende sluipmoordpoging in Vosloorus oorleef het, het ook die span wat ‘n saak van poging tot moord ondersoek, by sy prokureur se kantore in Johannesburg, ontmoet:
# Die 23-jarige man wat in hegtenis geneem is in verband met die massaskietery in Reigerpark, is vrygelaat nadat die saak weens onvoldoende bewyse nie op die hofrol geplaas is nie. Ses mense is dood en drie gewond in die voorval oor die naweek. Polisiewoordvoerder Dimakatso Nevhuhulwi:
# FlySafair sê alle vlugte gaan voort volgens skedule ondanks ‘n staking wat gister begin het. Die lugredery sê daar is geen vertragings nie, en vandag se skedule word nie geraak nie. Opvolggesprekke met die Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningsvereniging gaan môre voort. FlySafair het intussen by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie aansoek gedoen vir voorkeurbemiddeling in openbare belang. Die lugredery het sy verbintenis herbevestig tot veilige en betroubare werksaamhede tydens die voortgesette onderhandelinge.
# Die Wêreldbank en Google het ‘n vennootskap aangekondig vir die uitrol van kunsmatige intelligensie-aangedrewe, oopbron- digitale stelsels, insluitend ID’s, betalings en data-uitruiling, om oor vyf jaar 25 lande en 100-miljoen mense te bereik. Die aankondiging is gedoen tydens die beraad vir Globale Digitale Openbare Infrastruktuur in Kaapstad. Google Suid-Afrika se hoof van Regeringsake en Openbare Beleid, Abongile Mashele, sê digitale openbare infrastruktuur bou deurgange wat elke landsburger in staat stel om aan die ekonomie en die samelewing in geheel deel te neem.
# Padwedlope: iTOO Special Risks het met die Comrades-marathon saamgespan om kansellasie- en gebeurlikheidsversekering te bied vir die wedloop volgende jaar. Dit volg nadat die Kaapstad-marathon verlede maand weens ongunstige windtoestande gekanselleer is. Die dekking sal hardlopers se inskrywingsgelde beskerm indien die geleentheid gekanselleer of uitgestel word, terwyl dit ook die organiseerders se koste beskerm. Die stap is daarop gemik om deelnemersvertroue te verhoog en te verseker dat die ikoniese ultramarathon kan voortgaan ten spyte van onvoorsiene uitdagings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-43-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-654-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-980-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….