Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vier mense is dood en twee bedenklik na ‘n Oos-Randse familieskietvoorval
# Die Kluitjieskraal-brand is buite beheer en 40 strukture het reeds in die slag gebly
# En ‘n ligte aardskudding tref Gauteng
# ‘n Man van Benoni aan die Gautengse Oos-Rand is onder polisiebewaking in die hospitaal nadat hy na bewering sy vrou, dogter, ouers en huiswerker geskiet het voor hy ook homself gewond het. Die man se vrou het ook oorleef, maar die ander vier slagoffers is dood. Die 56-jarige man het na bewering eers sy ouers, albei in hulle sewentiger-jare, in hulle huis in Kemptonpark geskiet, waarna hy terug is huis toe waar hy sy 43-jarige vrou, 22-jarige dogter en 56-jarige werker, en toe homself geskiet het. Die man en sy vrou is albei in ʼn bedenklike toestand.
# Die brand by Kluitjieskraal in die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het ongeveer 40 strukture vernietig. Die brand, wat laat gistermiddag opgevlam het, het reeds ses-duisend hektaar verwoes, en woed steeds buite beheer, aangedryf deur hoë temperature en sterk wind. Die munisipaliteit se woordvoerder, Anesca Roodt, sê aktiewe brandbestrydingspogings sal deur die nag voortduur, met die fokus op die behoud van die brandlyn en die beskerming van oorblywende strukture.
# Die minister van Elektrisiteit Kgosientsho Ramokgopa sê die energievooruitsigte sal verbeter nadat Koeberg-eenheid een terug is op die netwerk, met ‘n aansienlike hupstoot van minstens 27 megawatt ekstra by die gewone lewering sal verseker. Eenheid een is in November verlede jaar suksesvol gesinchroniseer, na ‘n langdurige onderbreking, wat ‘n positiewe stap in die rigting van die verbetering van energieveerkragtigheid beteken. Ramokgopa, het op ‘n nuuskonferensie oor die Energie-aksieplan gepraat en verwag ‘n noemenswaardige afname in beurtkrag-intensiteit, maar sê beplande instandhouding is steeds aansienlik hoog:
# Tennis: Die wêreld nommer een, Novak Djokovic, het die halfeindronde van die Australiese Ope gehaal deur die 12de gekeurde Amerikaner, Taylor Fritz, in vier stelle uit te skakel. Die Serwiër het op ʼn warm dag in Melbourne met 7-6, 4-6, 6-2, 6-3 geseëvier om die veldtog voort te sit om sy rekord 11de titel by die Grand Slam-toernooi te verower. Die 36-jarige verdedigende kampioen sê dit was ʼn taai wedstryd:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-2-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 38-duisend-584-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-23-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-5-sent per vat.
# En ten slotte: Die Raad vir Geowetenskap het bevestig dele van Gauteng het in die vroeë oggendure ‘n ligte aardskudding ervaar. Die skudding, met ‘n sterkte van ongeveer 2,5, het suid van Johannesburg plaasgevind, sowat drie kilometer noord van die Harmony Doornkop-goudmyn. Dit is die eerste aardskudding in die provinsie vanjaar. Die raad moedig die publiek aan om hul ervarings met behulp van ‘n aanlyn vraelys te deel. Dié voorval volg op vorige skuddings in Oktober en ‘n kragtige aardbewing in Junie verlede jaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….