Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Geslag-aktivis sê Oscar Pistorius se vrylating sal pynlike wonde vir slagoffers oopkrap
# Die Noord-Kaapse polisie soek na die moordenaar van ‘n tiener van Brandvlei
# En, krieket: Indië wen die eerste toets ooit op Nuweland en maak die reeks gelykop
# Die geslag-aktivis Anele Mda het kommer uitgespreek dat die vrylating van Oscar Pistorius op parool ou wonde sal oopkrap vir die slagoffers wat geraak is deur die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp. Pistorius sal môre vrygelaat word, ‘n paar weke voor die elfde herdenking van Steenkamp se dood. Mda het aan eNCA gesê geregtigheid het nie noodwending in hierdie spesifieke moordsaak geseëvier nie:
Intussen is niemand nog in hegtenis geneem nie nadat ‘n Noord-Kaapse tiener op Oujaarsdag in Brandvlei vermoor is. Die 18-jarige Hesty-Anne Green het die vorige aand ʼn dans op die sportterrein bygewoon en haar familie het na haar begin soek toe sy nie huis toe gekom het nie. Haar liggaam is in ʼn verlate gebou aangetref en die polisie vermoed sy is ook verkrag. Mense in die omgewing het in die vroeë oggendure ʼn geroep om hulp gehoor maar was te bang om ondersoek in te stel. Die polisie versoek mense met inligting om na vore te kom.
# Die Britse mediese vereniging sê hy is bereid om die junior dokter-betoging van ses dae te beëindig as die regering na vore kom met ‘n geloofwaardige aanbod. Die vereniging, wat dokters in die Verenigde Koninkryk verteenwoordig, is gewikkel in ‘n salarisgeskil en eis ‘n verhoging van 35-persent. Die staking kan die langste onderbreking ooit vir die Nasionale Gesondheidsdiens wees. Die minister van Gesondheid, Victoria Atkins hou vol die staking moet eindig voor samesprekings plaasvind. Die optrede het reeds ontwrigting veroorsaak van roetine hospitaaldienste.
# Krieket: Indië het hulle eerste toets ooit op Nuweland in Kaapstad gewen en die reeks van twee wedstryde teen Suid-Afrika gelykop laat eindig. Die kortste toets in die geskiedenis het kort na middagete op die tweede dag geëindig. Die Proteas het vanoggend hulle tweede beurt hervat op 62 vir drie en is uitgeboul vir 176, ondanks ‘n skitterende hondertal deur die aanvangskolwer Aiden Markram. Indië het die teiken van 79 bereik met net drie paaltjies plat. Kaptein Rohit Sharma was in sy noppies dat sy span kon terugveg na die beurtnederlaag in die eerste toets:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-374-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-42-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-42-sent per vat.
# Ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ʼn waarskuwing uitgereik vir kwaai donderstorms in die Oos-Kaap vandag. ʼn Geel vlak-twee waarskuwing is van krag, wat dui op moontlike swaar neerslae, skadelike wind en klein hael in die noordwestelike binneland vandeesweek. Die waarskuwing volg op kwaai vloede wat gedeeltes van die O R Tambo-distrik, insluitende Koffiebaai, geraak het. Daarbenewens bestaan ʼn uiters hoё brandgevaar in dele van die Noord-Kaap en die Cederberg in die Wes-Kaap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….