Nuus 18:00
BULLETIN 14 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Thoko Didiza word verkies tot nuwe speaker van die Nasionale Vergadering
# Die Progressive Caucus beskuldig die ANC dat hy die regering van nasionale eenheid verbloem
# En rugby: Rassie Erasmus sê ‘n oorwinning vir die Bulle oor Leinster sal die Bokke bevoordeel voor die toetsreeks teen Ierland
# Die voormalige minister van Landbou, Thoko Didiza, is verkies tot nuwe speaker van die Parlement. Sy het 284 stemme gekry en Veronica Mente van die EFF 49.
# Die Progressieve Caucus bestaande uit die EFF, ATM, UDM, PAC, Al Jamah en die UAT het die ANC beskuldig dat hy die regering van nasionale eenheid gebruik om sy alliansie met die DA en die IVP te verdoesel. Die ses partye voer aan hulle is uitgesluit van die betekenisvolle en omvattende beraadslagings oor die regering van nasionale eenheid. Die leier van die ATM, Vuyolwethu Zungula, sê dit is duidelik die ANC vorm ‘n koalisie met partye wat hy verkies:
# Nontembeko Nothemba Boyce van die ANC is herkies as die speaker van die KwaZulu-Natalse wetgewer. Sy is benoem deur die IVP met steun van die DA. Boyce het 41 stemme gekry teenoor die 39 van Mervyn Alexander Dirks van die People’s Assembly. Boyce het die wetgewer se plig beklemtoon om die Grondwet te respekteer en te handhaaf. Sy het ook ‘n beroep op lede gedoen om die huis te respekteer terwyl hulle die mense van KwaZulu-Natal dien:
# Die multi-miljoen-rand asbesdakverwyderingsaak is terug in die Hooggeregshof in Bloemfontein. Die verhoor moes in April begin het, maar is uitgestel tot vandag. Die saak gaan oor die beweerde onreëlmatige toekenning van ‘n asbesdak-verwyderingsprojek van 255-miljoen-rand in Oktober 2014. Agtien beskuldigdes, wat verskeie maatskappye insluit, staan tereg op meer as 70 aanklagte van korrupsie en geldwassery. Onder die beskuldigdes is die voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule, en die sakeman Edwin Sodi.
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus glo ‘n oorwinning vir die Bulle oor die Ierse span Leinster sal die nasionale span ‘n hupstoot gee voor volgende maand se reeks van twee toetse teen Ierland. Die span van Pretoria verwelkom die oud-Bok-afrigter Jacques Nienaber se span op Loftus vir die halfeindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap. Erasmus sê hoewel hy gretig is om die Bulle se Bokke in sy kamp te hê vir volgende naweek se toets teen Wallis in Londen, wil hy hulle regtig graag sien deurdring na die eindstryd.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-782-dollar-59-sent. Die prys van goud is twee-duisend-333-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-78-sent per vat.
# En, kunsmatige intelligensie kan nou sien of ‘n kat pyn het deur na sy gesig te kyk, met ‘n toepassing wat deur veeartse en ontwikkelaars in Japan gebou is. Dit is ontwerp met behulp van ses-duisend foto’s van katte, en is meer as 95-persent akkuraat. Die meeste veeartse kan sê of ‘n dier pyn het, maar dis moeiliker vir eienaars. Meer as 230-duisend mense het reeds die toepassing gebruik sedert die bekendstelling in Japan. Die land het verlede jaar sowat 16-miljoen honde en katte as troeteldiere gehad, meer as die aantal kinders onder 15.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….