Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Jabulani Khumalo se aansoek vir herinstelling op die MK-party se Parlementêre lys word verwerp
# Die Parlement onderneem omvattende voorbereidingswerk vir die oorgang na die sewende administrasie
# En, krieket: Die Amerikaanse afrigter weier om die stophorlosie-straf die skuld te gee vir die nederlaag teen Indië
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het Jabulani Khumalo se dringende aansoek van die hand gewys om heraangestel te word op die MK-party se parlementêre lys. Die uitgeskopte stigter van die party het probeer om môre as parlementslid ingehuldig te word. Hy beweer Duduzile Zuma-Sambudla het sy handtekening vervals op ‘n brief wat hom met oudpresident Jacob Zuma as partyleier vervang. Zuma se regsverteenwoordiger, Thabani Masuku, het aangevoer Khumalo se aansoek om herinstelling is hopeloos.
Die sekretaris van die Parlement, Xolile George, sê intussen die Parlement berei toegewyd voor vir die oorgang na die sewende administrasie, wat ‘n sleutel-oomblik in die demokratiese geskiedenis is. George het die media toegespreek en die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum tot parlementêre gebied verklaar. Hy sê môre se eerste sitting van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies in die sentrum verteenwoordig die letterlike wil van die mense en die vestiging van die nuwe parlementêre termyn:
# Die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, het die paneelverslag verwelkom oor inhoud wat in twee kamers in die Wilgenhof-koshuis aan die Universiteit Stellenbosch gevind is. Dit hou na bewering verband met ingewortelde rassisme. Die rektoraat het die paneel se aanbeveling onderskryf om Wilgenhof aan die einde van die akademiese jaar te sluit. Visekanselier Wim de Villiers sal hierdie aanbeveling op die volgende raadsvergadering voorlê. Sy woordvoerder, Veli Mbele, sê Nzimande vra samewerking om sulke gedrag by akademiese instellings uit te wis:
# Krieket: Amerika se afrigter, Stuart Law, weier om die stophorlosie-straf die skuld te gee vir gister se nederlaag teen Indië in hulle groepswedstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi. Die medegasheer is die eerste span wat gestraf is ingevolge die nuwe reël wat die boulspan verplig om met die volgende boulbeurt te begin binne ‘n minuut nadat die vorige een geëindig het. Indië was na 15 boulbeurte op 76 vir drie toe hulle vyf lopies toegeken is, en het die teiken van 111 in die voorlaaste boulbeurt bereik. Volgens Law het hulle nog baie om te leer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-442-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-309-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-78-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Deense hond wat na vernoem is na Macauley Culkin se karakter in ‘Home Alone’ is volgens die Guinness-wêreldrekords die wêreld se langste hond. Kevin is 97 sentimeter van pote tot skouers maar ongeveer 2,1-meter op sy agterpote. Die driejarige van Iowa bly saam met drie ander honde en vier katte. Sy eienaar, Tracy Wolfe, sê hy is inderdaad ‘n sagmoedige reus en doodbang vir ‘n stofsuier. Sy sê Kevin jaag af en toe ‘n kat, maar lek hulle net wanneer hy hulle inhaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….