Nuus 18:00
BULLETIN 12 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Maimane noem ‘n regering van nasionale eenheid ‘n groot koalisie tussen die ANC, die DA en die IVP
# Die kosteberaming van die KwaZulu-Natalse storms oorskry 1,3-miljard-rand
# En, gholf: ‘n Jong Amerikaanse kwalifiseerder vervang die beseerde kampioen van 2021 op die Amerikaanse Ope
# Die leier van Build One South Africa, Mmusi Maimane, dring aan die huidige koalisie-samesprekings behoort ‘n groot koalisie tussen die ANC, DA en IVP genoem te word, en nie ‘n regering van nasionale eenheid nie. Maimane beklemtoon geen party het ‘n volstrekte meerderheid in die Nasionale Vergadering nie. Hy wys op die belangrikheid van gelyke verteenwoordiging in die Parlement en ‘n sterk opposisie wat die regering aanspreeklik kan hou.
# Die aanvanklike beraming van die koste na die verwoestende storms in KwaZulu-Natal het 1,3-miljard-rand oorskry, met 480-miljoen-rand se skade in die eThekwini-metro. Meer as sewe-duisend huishoudings, 20 skole en belangrike infrastuktuur is geraak. Sboniso Mngadi van die provinsiale Departement Samewerkende Regering sê hulppogings sluit in die aflewering van boumateriaal, mobiele kantore vir die vervanging van identiteitsdokumente, en SASSA-steun met voedselkoopbewyse, matrasse en komberse:
# Bedrogskemas met e-Indieningsprofiele neem toe, waarin belastingbetalers se rekenings deur kuberkrakers ingedring of gekaap word. Bedrieërs verander glo intekenaar- en bankrekeningbesonderhede om bedrieglike BTW-inligting in te dien, waarna hulle geld na hulle eie rekenings oorplaas. Kenners waarsku belastingbetalers is aanspreeklik as bedrog by hulle maatskappy ontstaan. Belastingbetalers word aangemoedig om hulle inligting te beskerm om sulke voorvalle te voorkom. Die Inkomstediens gee voorkeur aan stelselsekerheid en ondersoek bedrogsake individueel.
# MultiChoice Nambia het in Windhoek begin met Vennote Teen Roofkyk. Hierdie vennootskap wat die Namibiese Rolprentkommissie, die ministerie van Inligting en Kommunikasietegnologie en ander belanghebbers betrek, is daarop gemik om die skeppende bedryf te beskerm met bewustheid van kopiereg en intellektuele eiendom. Besturende direkteur, Roger Gertze, het Namibiërs aangeraai om nie inhoud wat geroof is af te laai nie en benadruk die doel met die veldtog is om belegging in die skeppende bedryf te laat groei en te lok:
# Gholf: Die jong Amerikaner Jackson Suber kry van môre af ‘n kans om in die Amerikaanse Ope op Pinehurst te speel na die onttrekking van Jon Rahm van Spanje. ‘n Seer voet hou die kampioen van 2021 uit die major-toernooi. Rahm het ook onttrek aan verlede naweek se LIV-gholfliga-geleentheid in Houston. Die 24-jarige Suber is die eerste alternatief uit die finale kwalifiserende geleentheid en slaan af saam met twee voormalige major-kampioene, Hideki Matsuyama van Japan en die Amerikaner Jordan Spieth.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-739-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-327-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….