Nuus 17:00
BULLETIN 21 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Staatskuld is volgens die minister van Finansies meer bestendig met sterker belastinginvordering
# Mediamaatskappye staan algehele geheimhouding van amptenaar van Intelligensie-koördineringskomitee teen
# En, Rusland laat Amerikaanse burger Stephen Hubbard vry ná meer as vier jaar in aanhouding
# Die regering se skuldlas is vir die eerste keer in bykans twee dekades bestendig, volgens die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se mini-begroting. Staatskuld was in die 2025/2026-boekjaar op 78,4-persent van die bruto binnelandse produk. Die Nasionale Tesourie sê sterker belastinginvordering en laer koste om skuld te delg het bygedra dat die regering beter as verwag presteer het. Godongwana sê belasting-en ander inkomste sal na verwagting Februarie se ramings met 54,1-miljard-rand oorskry:
# Intussen, beplan die Nasionale Tesourie die eerste omvattende hersiening in 23 jaar van die wetgewing wat munisipale finansies reguleer. Die minister van Finansies Enoch Godongwana sê die veranderinge sal van munisipaliteite vereis om behoorlik gefinansierde begrotings te aanvaar, inkomstevordering te verbeter en aanspreeklikheid te versterk. Die wysigings sal die Tesourie ook groter bevoegdhede gee om finansiële wangedrag te ondersoek, verliese te verhaal en vroeër in te gryp wanneer munisipaliteite in finansiële nood verkeer. Godongwana sê die hervormings is daarop gemik om finansiële bestuur te verbeter, terwyl basiese dienste vir armer huishoudings beskerm word:
# Mediaorganisasies het beswaar gemaak teen ‘n algehele verhoor agter geslote deure by die Madlanga-kommissie vir die waarnemende koördineerder van die Nasionale Intelligensie-koördineringskomitee, Ntandazo Sifolo. Die regsverteenwoordiger van Daily Maverick, Media24 en amaBhungane, Advokaat Ben Winks, voer aan geheimhouding moet beperk word slegs tot inligting wat werklik sensitief is. Hy stel voor vertroulike name, datums en liggings moet voor die getuienis geïdentifiseer word, en dat skuilname gebruik moet word waar moontlik. Hy sê die versoek van die media-organisasies vir verrigtinge agter geslote deure moet behoorlik gemotiveer word:
Nuus uit die buiteland:
# Rusland het ‘n afgetrede onderwyser en Amerikaanse burger Stephen Hubbard, wat langer as vier jaar in aanhouding was weens beskuldigings dat hy vir Oekraïne geveg het, vrygelaat. Die Russiese president, Vladimir Putin, het die vrylating tydens gesprekke met die Amerikaanse gesant, Steve Witkoff, in Sint Petersburg aangekondig. Die 74-jarige Hubbard is ná ‘n geslote verhoor in 2024 tot byna sewe jaar tronkstraf gevonnis, wat Amerika as onregmatige aanhouding beskou het. Witkoff het Putin bedank vir Hubbard se vrylating maar dit is nie duidelik of enige ooreenkoms aangegaan of toegewings gemaak is om dit te bewerkstellig nie.
# Tennis: Die wêreld-nommer-nege, Iga Swiatek van Pole, het haar seisoen vroeg beëindig nadat sy weens ‘n dybesering aan die Ningbo-ope in China onttrek het. Dit beteken sy het die eerste keer sedert 2019 nie vir die WTA-jaareindtoernooi gekwalifiseer nie. Sy het ook die seisoen vir die eerste keer sedert 2021 sonder ‘n Grand Slam-titel afgesluit. Swiatek hoop om reg te wees wanneer die nuwe seisoen in Januarie met die Australiese Ope begin, waar sy die kans sal kry om ‘n loopbaan-Grand Slam te voltooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-37-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-520-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-134-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 109-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….