Nuus 16:00
BULLETIN 21 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana kondig ‘n tydelike verlaging van die brandstofheffing aan in die mini-begroting
# Trump waarsku oor chaos indien die Demokrate die middeltermynverkiesing wen
# En krieket: Australië volg op nadat hulle vir net 99 uitgeknikker is in die tweede toets
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het ‘n tydelike verlaging van die brandstofheffing aangekondig om druk op huishoudings en ondernemings te verlig. Die heffing sal van 4 November tot 1 Desember verminder word met een-rand-50-sent per liter petrol en drie-rand per liter diesel. Godongwana sê die Tesourie het sy vooruitskatting vir belastinginkomste met 17,1-miljard-rand verhoog, terwyl die begrotingstekort nou na verwagting tot 4,3-persent van die BBP sal krimp:
Godongwana het ook Suid-Afrika se ekonomiese groeivoorspelling vir vanjaar van 1,6- na 1,2-persent verminder. Hy sê groei bly te laag, ondanks die regering se pogings om openbare finansies te bestendig en skuld te verminder:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, waarsku oor onluste soortgelyk aan dié in Frankryk indien die Demokrate die middeltermynverkiesing wen. Hy het tydens ‘n verkiesingsbyeenkoms in Kansas immigrante en linksgesinde politici die skuld gegee vir die geweld in Frankryk en beweer die Demokrate wil soortgelyke chaos in Amerika veroorsaak. Trump het ‘n veldtog gevoer vir die Republikeinse senator Roger Marshall, wat teen die Demokraat Adam Hamilton te staan kom. Die verkiesing op 3 November sal bepaal wie die Kongres beheer te midde van toenemende kommer oor brandstofpryse en lewenskoste.
# Krieket: Suid-Afrika het Australië vir net 99 uitgeboul op die voorlaaste dag van die tweede toets in Gqeberha vir ‘n eerstebeurt-voorsprong van 326 lopies. Die snelbouler Marco Jansen het verwoesting gesaai en vyf paaltjies ingeoes. Kagiso Rabada en Wiaan Mulder het albei twee paaltjies geneem en Anrich Nortjé een. Steven Smith het Australië se beste telling behaal met 28. Kaptein Temba Bavuma het die besoekers gedwing om op te volg met die hoop om hulle weer uit te boul en die reeks van drie wedstryde gelykop te maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-39-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-470-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-138-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 110-dollar-26-sent per vat.
# En ten slotte: Huldeblyke stroom in vir die 65-jarige Janine Lochrenberg wat gister in ‘n haai-aanval op Orientstrand in KuGompo City in die Oos-Kaap gesterf het. Die afgetrede kernradiograaf en mediese fisikus was ook ‘n talentvolle musikant en ‘n ywerige oopwaterswemmer. Sy word beskryf as intelligent, bedagsaam en dapper. Die Oos-Londense Oopwater-swemvereniging sê Lochrenberg is dood waar sy die gelukkigste was en hul onthou haar pragtige glimlag, goedhartigheid en bydrae tot die swemgemeenskap en die musiekgroep Viva Musica.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….