Nuus 17:00
BULLETIN 19 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Valke voer ‘n klopjag uit op die huis van speaker Nosiviwe Mapisa-Nqakula oor korrupsiebewerings
# GIWUSA sluit aan by klimaatgeregtigheids-aktiviste in ‘n optog teen Eskom
# En, tennis: Sabalenka se lewensmaat sterf skielik terwyl sy voorberei vir die Miami-ope
# Die Valke het ‘n klopjag uitgevoer op die Johannesburgse huis van die Nasionale Vergadering se speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula. Dit hou verband met korrupsiebewerings tydens haar ampstermyn as die minister van Verdediging. Sowat ses beamptes in ongemerkte motors is vanoggend by haar huis in Bruma gewaar. Berigte dui aan sy word ondersoek omdat sy na bewering miljoene rand in kontant-omkoopgeld van ‘n kontrakteur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ontvang het. Ondersoeke sluit in beskuldigings oor die aanvra en ontvang van tot 2,3-miljoen-rand in kontant wat in geskenksakkies afgelewer is.
# Die vakbond Giwusa gaan môre kragte saamsnoer met klimaatgeregtigheids-aktiviste en ander vakbonde en teen Eskom opruk. Die versetoptrede sal fokus op die verwerping van elektrisiteitstariefverhogings, beurtkrag en ‘n aanvraag na bekostigbare, betroubare kragtoevoer. Giwusa se woordvoerder, Mametlwe Sebei, sê hulle staan vas in hul pleidooi vir ‘n werklik regverdige energie-oorgang wat skoon, veilige en bekostigbare energie vir almal vooropstel:
# Die Suid-Afrikaanse Unie vir Studente vra Unisa om bewerings van kullery onder studente te ondersoek. Berigte lui duisende studente word verdink van plagiaat nadat dit uitgewys is deur Unisa se aanlyn toetsstelsel. Dit is nie die eerste keer dat sulke bewerings opduik nie, met soortgelyke kwessies wat verlede Desember geopper is. Woordvoerder Asive Dlangwa sê Unisa se ondersoek is daarop gemik om aandag te gee aan kommer oor akademiese wanoptrede:
# President Cyril Ramaphosa het die klaring bevestig van 25-miljard-rand se hernubare energieprojekte. Ramaphosa het gepraat tydens die Volhoubare Infrastruktuurontwikkeling-simposium en aangekondig die klarings is moontlik gemaak ingevolge die Wet op Infrastruktuurontwikkeling. Dit sluit in permitte, lisensies en vrystellings. Hy het ook verwys na meer as 100 energieprojekte ten bedrae van 240-miljard-rand, wat op transmissie, gas, hernubares en groenwaterstof gerig is:
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Aryna Sabalenka, se lewensmaat is dood aan ‘n vermeende bloedklont wat losgekom het. Die voormalige yshokkiespeler Konstantin Koltsov was saam met die Belarussiese speler in Amerika waar sy voorberei het om van Vrydag af aan die Miami-ope deel te neem. Sy voormalige klub in Belarus het die nuus op sosiale media bekendgemaak. Die 42-jarige Koltsov het begin afrig nadat hy uitgetree het. Hy het drie seuns uit ‘n vorige verhouding. Koltsov en die 25-jarige Sabalenka was volgens berigte die afgelope drie jaar in ‘n verhouding.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-778-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-156-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….