Nuus 18:00
BULLETIN 7 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Shadrack Sibiya se borgtogverhoor onthul ‘n beweerde lekkasie van polisie-inligting
# Paul Mashatile verwelkom die vordering met die nasionale dialoog
# En, Staatsamptenare vra billike behandeling op Wêrelddag vir Waardige Werk
# Die Randburgse Landdroshof in Gauteng het gehoor dat ‘n polisielid wat ‘n beëdigde verklaring ter ondersteuning van die voormalige adjunk-nasionale polisiekommissaris Shadrack Sibiya se borgtogaansoek ingedien het, glo inligting oor die saak aan hom uitgelek het. Die hof het ook na ‘n opname geluister waarin Sibiya na bewering vra of die beampte vertrou kan word om hom “deur dik en dun by te staan”. Sibiya staan tereg op aanklagte van verkragting, seksuele gereedmaking van ‘n minderjarige en mensehandel. Die staat staan sy borgtogaansoek teen en voer aan hy kan met getuies inmeng.
# Adjunkpresident Paul Mashatile het vordering deur die Nasionale Dialoog-stuurkomitee verwelkom met die oog op ‘n inklusiewe en geloofwaardige proses. Mashatile het vandag met die komitee vergader terwyl verskeie sektore steeds oor kwessies beraadslaag wat Suid-Afrikaners raak. Volgens sy woordvoerder, Itumeleng Mafatshe, toon proefdialoë burgers is bereid om sinvol deel te neem en oplossings aan te bied. Sy sê Mashatile het die komitee aangemoedig om uitstaande kwessies rakende bestuur en openbare deelname aan te pak:
# Noord-Korea het kritiek teen die Verenigde State uitgespreek oor sy militêre steun en wapenverkope aan Taiwan, en Washington daarvan beskuldig dat hy spanning in die Straat van Taiwan aanwakker. Die kritiek volg nadat Taiwan die eerste twee van 66 Amerikaanse F-16-vegvliegtuie ontvang het wat in 2019 bestel is. Kim Jong Un het ook volgehoue steun aan Rusland belowe in ‘n verjaardagboodskap aan president Vladimir Putin. Kim sê Pyongyang sal samewerking met Moskou uitbrei en het vertroue uitgespreek dat Rusland se oorlog op ‘n oorwinning sal uitloop. Noord-Korea het sedert 2024 ongeveer 15-duisend troepe gestuur om Rusland te ondersteun.
# Sokker: Die Hof vir Sportarbitrasie sal môre Senegal se appèl aanhoor teen die besluit om die land sy Afrikabeker-titel te ontneem. Die Afrika-beheerliggaam, CAF, het die titel in Maart aan Marokko toegeken, ten spyte daarvan dat Senegal die eindstryd in Januarie met 1-0 in bykomende tyd gewen het. Dit het gebeur nadat Senegal se spelers vir 14 minute van die veld gestap het uit protes teen ‘n beslissing deur die skeidsregter. CAF se appèlraad het beslis dat Senegal die wedstryd verbeur het deur van die veld te stap. Die beheerliggaam en albei lande sal vertoë aan die hof rig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-108-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-97-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-94-sent per vat.
# En ten slotte: Die Vereniging van Staatsamptenare, wat meer as 250-duisend staatsamptenare verteenwoordig, herdenk vandag Wêrelddag vir Waardige Werk. Die vakbond sê staatsamptenare moet dikwels in onveilige omstandighede werk, hanteer oormatige werksladings en hoë personeelomset, terwyl hul meer moet doen met beperkte hulpbronne. Die woordvoerder, Claude Naicker vra die regering om befondsde vakante poste dringend te vul, veiligheidsmaatreëls te versterk en gesamentlike bedinging te beskerm. Hy sê waardige werk is noodsaaklik vir ‘n bekwame staat en volhoubare ontwikkeling:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….