Nuus 17:00
BULLETIN 14 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet vra ‘n onmiddellike einde aan die vyandighede in Palestina
# Die vonnisoplegging van ‘n Suid-Afrikaanse dokter wat haar dogters vermoor het, is vertraag na ‘n debat oor haar lot
# En, rugby: Werner Kok verruil die Haaie vir Ulster
# Die kabinet het diepe kommer uitgespreek oor die verlies aan lewens en die lyding in Palestina, en eis ‘n onmiddellike einde aan die vyandighede en die opskort van die versperring van Gaza. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het oor die uitkoms van die jongste kabinetsvergadering aan die media gesê die regering is optimisties oor sy dringende aansoek voor die Internasionale Geregshof. Sy sê die kabinet hoop dit sal alle gevegte stopsit en uiters nodige humanitêre hulp toelaat om die streek te bereik:
# Regter Ratha Mokgoatlheng het beslis bekentenisse deur die beskuldigdes Muzikawukhulelwa Sibiya en Bongani Sandiso Ntanzi in die moord op die sokkerster Senzo Meyiwa in 2014 is toelaatbaar. Die hof het bevind die bekentenisse is vryelik en vrywillig gemaak, en verwerp aansprake dat hulle gedwing is. Die regter het sy uitspraak gelewer na ‘n binneverhoor nadat die beskuldigdes beweer het daar was polisiedwang:
# Die vonnisoplegging van die Suid-Afrikaanse dokter Lauren Dickason, wat skuldig bevind is aan die moord op haar drie dogters in Nieu-Seeland, is uitgestel tot 26 Junie. Die Australiese nuusdiens, The Press, berig sielkundige beoordelings sal bepaal of sy aangehou moet word in ‘n geestesgesondheidsinrigting of ‘n tronk. Intussen vind ‘n konferensie van kenners volgende Vrydag plaas, in plaas van die vonnis, soos voorheen geskeduleer is. Dickason is in die Hillmorton-hospitaal, met nog evaluerings wat wag oor die aard en duur van haar vonnis.
# Italië se mededingingsowerheid het TikTok met byna 204-million-rand beboet en sê die uiters gewilde video-toepassing beskerm minderjariges nie voldoende nie. Die waghond sê die maatskappy het nie toepaslike meganismes ingestel om inhoud op die platform te monitor nie, veral nie dit wat minderjariges en kwesbare mense se veiligheid kan bedreig nie. Hierdie inhoud word stelselmatig vir gebruikers heraangebied as gevolg van hulle algoritme-profiele, wat op sy beurt weer die gebruik van die sosiale netwerk laat styg.
# Rugby: Die voormalige Blitsbok-ster Werner Kok verlaat die Haaie aan die einde van die seisoen en sluit hom by Ulster in Ierland aan. Dit volg op die vertrek van Rohan Janse van Rensburg en Le Roux Roets. Kok het 55 wedstryde vir die Durbanse span gespeel nadat hy in 2020 by hulle aangesluit het. Die Springbok-senter André Esterhuizen sal na verwagting terugkeer na die Haaie nadat hy weg is by die Engelse klub Harlequins. Die span het ook kontrakte gesluit met die Wêreldbeker-wenner Trevor Nyakane en Jason Jenkins.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-918-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-163-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….