Nuus 17:00
BULLETIN 21 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die FW de Klerk-stigting distansieer hom van die uittredende direkteur, Christo van der Rheede se uitlatings oor Amerika en Suid-Afrika
# Die Stad Johannesburg span saam met taxi-verenigings om vroue te beveilig
# En, roei: ‘n rivier met 500 krokodille word gekies vir roei-items by die Olimpiese Spele
# Die FW de Klerk-stigting het hom gedistansieer van uitlatings deur sy uittredende uitvoerende direkteur, Christo van der Rheede, oor spanning tussen Suid-Afrika en Amerika. News24 berig die stigting sê Van der Rheede het ongemagtigde verklarings gemaak nadat hy sy bedanking ingedien het. Die stigting het hom ook die reg ontneem om tot en met sy uittrede aan die einde van die jaar alleen namens die organisasie te praat. Die raad het ‘n komitee aangewys om tydens die oorgangstydperk toesig te hou oor uitvoerende besluite en openbare verklarings.
# Die DA sê maande ná minister Gayton McKenzie se Wêreldbeker-reis kan die Departement van Sport, Kuns en Kultuur steeds nie ‘n finale verslag oor die bykans 31-miljoen-rand wat bestee is voorlê nie. McKenzie word gekritiseer omdat hy nog nie ‘n volledige uiteensetting van die uitgawes verskaf het nie, of verduidelik waarom ‘n afvaardiging van 151 mense na die internasionale skouspel in Amerika gestuur is nie. Die DA-lid, Leah Potgieter, sê die party het die Openbare Beskermer in Julie versoek om bewerings, insluitend wanadministrasie, te ondersoek:
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, sê die stad en taxi-verenigings sal saamwerk om veiliger ruimtes vir vroue en gemeenskappe te skep. Dit volg ná die ontdekking van die liggame van nege vroue in Ekurhuleni. Morero het op die eerste Johannesburgse Burgemeesters-lesing in die Soweto-teater gesê gemeenskapsveiligheid bly noodsaaklik. Hy sê taxi-operateurs sal help om onveilige gebiede te identifiseer en polisie-optrede ondersteun want Johannesburg moet veiliger word vir vroue:
# Die Amerikaanse nuusorganisasies, CNN, MSNBC en Politico, dagvaar die Trump-administrasie oor die herroeping van hul persakkreditasie by die Withuis. Die drie organisasies beweer die akkreditasie is teruggetrek nadat die Withuis beswaar gemaak het oor hul beriggewing. Hulle voer aan hierdie stap skend hul regte ingevolge die Eerste Amendement en hou ‘n bedreiging in vir onafhanklike joernalistiek. Die nuusorganisasies het die regering gister in kennis gestel dat hulle regsoptrede beplan. Verslaggewers van al drie organisasies is Saterdag toegang tot die Withuis geweier nadat president Donald Trump die verbod aangekondig het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-135-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-363-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 101-dollar-59-sent per vat.
# En laastens: Die Fitzroy-rivier in Queensland, Australië is die tuiste vir sowat 500 soutwaterkrokodille, maar gaan gebruik word vir roei-items tydens die 2032-Olimpiese Spele in Brisbane. Die sogenaamde “salties” kom in vars- en soutwater voor en kan langer as ses meter word. Die rivier voldoen aan die vereistes vir roei- en kanowedvaarte. Die driemalige Olimpiese roeikampioen Drew Ginn sê hy is bekommerd, maar hy is seker die roeiers gaan vinnig wees. ‘n Ander voorstander meen daar haaie in die see, maar mense ry steeds branderplank, so almal moet net rustig raak en dinge in perspektief begin sien.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….