Nuus 17:00
BULLETIN 1 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof vonnis Landdros Romay van Rooyen se susterskind vir haar moord.
# Stakings bring openbare vervoer feitlik tot stilstand in Duitsland
# En, Krieket: Australië neem beheer van die eerste toets teen Nieu-Seeland
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het Landdros Romay van Rooyen se susterskind tot 20-jaar gevangenisstraf gevonnis vir haar moord. Cassidy Hartzenberg het beken hy het sy tannie in September 2022 in haar huis in Muizenberg, Kaapstad, verwurg nadat sy geweier het om hom geld te gee, en hy het ook haar voertuig gesteel. Eric Ntabazalila van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die hof het die voorkoms van geslagsgeweld erken en hom ook tot ses-jaar gevonnis vir diefstal, met die vonnisse wat samelopend uitgedien sal word:
# Die Outomobiel-assosiasie sê die jongste ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds toon dat 95-oktaan petrol Woensdag een-rand-20 sent per liter duurder kan word, terwyl die prys 93-oktaan petrol met een-rand-15 sent per liter kan styg. Die dieselprys sal na verwagting met ongeveer een-rand-18 sent per liter styg en lampolie met 63 sent per liter. Die AA se woordvoerder, Layton Beard, sê die algemene brandstofheffing en Padongelukkefonds-heffing sal onveranderd bly, wat ‘n mate van verligting sal bied:
# Die Kopieregkoalisie van Suid-Afrika het gewaarsku die huidige vorm van die Kopieregwetsontwerp slaag nie daarin om skeppers se regte voldoende te beskerm nie. Die koalisie vrees die inwerkingtreding daarvan sal ‘n ramp vir die land se kreatiewe bedryf beteken, ten spyte van die Nasionale Vergadering se naderende stemming oor die wetsontwerp. Die woordvoerder, Chola Makgamathe, voer aan die voorgestelde wetgewing kan die begin van die einde vir skeppende mense in Suid-Afrika wees indien dit goedgekeur word:
# Openbare vervoer het oral in Duitsland feitlik tot stilstand gekom weens stakings oor werksure. Die protesaksie het ‘n week gelede begin en uiteindelik na 14 van die land se 16 state versprei. Dit word vandag vererger deur klimaatbetogings in meer as 100 stede. Reuters berig, die nasionale spooroperateur Deutsche Bahn sê hy is bereid om ‘n beter aanbod voor te lê oor ‘n vermindering in werksure. Die vakbond GDL het hom egter aan onderhandelinge onttrek nadat hy Deutsche Bahn daarvan beskuldig het dat hy vertroulike inligting uitgelek het.
# Krieket: Australië is beheer van die eerste toets teen Nieu-Seeland in Wellington. Die besoekers het 383 in hulle eerste beurt aangeteken danksy ‘n onoorwonne 174 deur Cameron Green, en die gasheer daarna vir net 179 uitgeboul. Glenn Phillips se 71 was die hoogste telling, terwyl Nathan Lyon vier paaltjies geneem het. Australië sal op die derde dag sy tweede beurt hervat op 13 vir twee, ‘n voorsprong van 172, nadat Steve Smith vir ‘n nulletjie skoongeboul is. Die Suid-Afrikaans-gebore Marnus Labuschagne is uitgevang op twee.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-17-sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-620-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-52-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….