Nuus 17:00
BULLETIN 11 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Rise Mzansi waarsku oor swak munisipale verantwoordbaarheid
# Die DA sê NSFAS se tekort van R33-miljard toon die befondsingsmodel is onvolhoubaar
# En, vyf dood en veertig beseer in ‘n busongeluk in die Switserse Alpe
# Die leier van RISE Mzansi en voorsitter van die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge, Songezo Zibi, sê die grootste uitdaging waarmee plaaslike regering worstel is ‘n gebrek aan aanspreeklikheid. Zibi het tydens ‘n paneelbespreking oor die toekoms van metro’s gesê die Ouditeur-Generaal se bevindings het ten doel om die werklike skade weens swak bestuur uit te wys, maar munisipale rade versuim herhaaldelik om op dié waarskuwings te reageer. Hy sê wanneer interne toesig nie ernstig opgeneem word nie, vererger diensleweringsprobleme, en hy vra beter munisipale bestuur:
# Die DA sê die verwagte tekort van 33-miljard-rand teen 2029 by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente toon die huidige befondsingsmodel is nie meer volhoubaar nie. Die party vra die skema moet gedesentraliseer word, sodat universiteite en TVET-kolleges groter verantwoordelikheid vir die bestuur van studentebefondsing kan neem. Delmaine Christians van die DA sê die skema het reeds ‘n tekort van ongeveer 15-miljard rand en ondersteun sowat 800-duisend studente:
# Die polisie in Gauteng sê ‘n gesamentlike benadering deur wetstoepassingsagentskappe, die regering, die sakegemeenskap en gemeenskappe help om misdaad te bekamp. Die provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Tommy Mthombeni, sê Operasie Shanela 2 het gelei tot 88-duisend-584 inhegtenisnemings, insluitend die van 14-duisend-256 onwettige immigrante. Beamptes het ook beslag gelê op 282 vuurwapens, bykans ses-duisend rondes ammunisie en 144 gesteelde of gekaapte voertuie. Kontakmisdaad het met drie-persent afgeneem, eiendomsverwante misdaad met 2,7-persent, en geslagsgeweld en vrouemoord met 9,1-persent. Mthombeni sê poging tot moord en aanranding is egter steeds kommerwekkend.
# Vyf mense is dood en 40 beseer toe ‘n Nederlandse toerbus naby die Alpe-dorpie Susch in Oos-Switserland verongeluk het. Die bus, met 45 Nederlandse toeriste aan boord, het op ‘n pad, wat gedeeltelik gesluit was vir onderhoudswerk, omgeslaan. Drie van die beseerdes is in ‘n bedenklike toestand, terwyl sewe matige beserings opgedoen het. Nooddienste, insluitend reddingshelikopters, is na die toneel ontbied. Die name van die oorledenes is nog nie bekend gemaak nie. Switserse owerhede ondersoek die oorsaak van die ongeluk.
# Motorsport: George Russell sê hy sal geluk nodig hê om sy Mercedes-spanmaat, Kimi Antonelli, in te haal en Formule Een se bestuurders-kampioenskap te wen. Hy het Antonelli in Julie laas in Brittanje geklop. Die Italianer het onlangs van die 19de plek teruggeveg om sy tuis-wedren in Monza te wen. Die Brit is 66 punte agter hom met tien wedrenne oor voor die naweek se Spaanse Grand Prix, maar is steeds hoopvol:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-11-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-851-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-386-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 105-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….