Nuus 16:00
BULLETIN 11 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Bafana Mahungela is skuldig bevind aan die moord op Kirsten Kluyts
# ActionSA betwis die aanstelling van die Johannesburgse hoof van Openbare Veiligheid
# En: Amerika herdenk 25 jaar sedert die 9/11-aanvalle
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het Bafana Mahungela skuldig bevind aan die moord op ‘n onderwyseres van die Spesiale Skool Deltapark, Kirsten Kluyts, tydens ‘n MyRun-wedloop in Parkmore, Sandton, in Oktober 2023. Hy is ook skuldig bevind aan ontvoering, roof met verswarende omstandighede, poging tot verkragting en regsverydeling. Regter Ian Cox sê die staat het sy saak bo redelike twyfel bewys, en Mahungela se weergawe verwerp. Hy het die saak uitgestel vir voorvonnis-verrigtinge:
# ActionSA vra die provinsiale regering se dringende ingryping met die aanstelling van Lesiba Malotana as hoof van die Departement van Openbare Veiligheid in Stad Johannesburg. Die party sê Malotana is tydens die keuringsproses as problematies uitgewys en word steeds verbind met onopgeloste bewerings oor die Tembisa-hospitaal-saak. Die leier van ActionSA se Johannesburgse koukus, Marcel Coutriers, sê die aanstelling ondermyn opnbare vertroue. Hy dring aan op ‘n ondersoek en moontlike regstappe:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n voorlopige hofbevel verkry om drie eiendomme en vyf voertuie te bevries wat verbind word met ‘n beweerde bedrieglike biblioteekprojek van vier-miljoen-rand in KwaZulu-Natal. Die bates behoort aan Liyabongeka Trading Enterprise en die eienaar, Thabile Jacqueline Xaba. Die eenheid beweer daar was onreëlmatighede met die verkrygingsproses en kontrakte, asook bedrieglike fakture en betalings vir dienste wat nie gelewer is nie. Xaba en haar onderneming moet 7 Oktober voor die Spesiale Tribunaal verskyn indien hulle die permanente bevriesing van die bates wil teenstaan.
En nou na die buiteland:
# Amerika herdenk vandag 25-jaar ná die 11 September 2001-aanvalle, waarin bykans drie-duisend mense dood is. Herdenkingsplegtighede word in New York, Washington en Pennsilvanië gehou, waar die name van slagoffers voorgelees word en oomblikke van stilte gehandhaaf word. Vanjaar is ‘n bykomende oomblik van stilte ingesluit ter nagedagtenis aan mense wat later dood is weens siektes wat verband hou met blootstelling aan giftige stowe ná die aanvalle. President Donald Trump woon ‘n herdenkingsplegtigheid in die Pentagon by, terwyl familielede en oorlewendes steeds hulde bring aan die slagoffers.
# Sokker: Frankryk se beheerliggaam, die FFF, het sy steun onttrek vir FIFA se president, Gianni Infantino, se herverkiesing volgende jaar. Hy is veroordeel oor sy mislukte planne om aandele in die Wêreldbekertoernooi en ander kompetisies aan beleggers te verkoop. Die Europese liggaam UEFA, AFC van Asië en die Noord-Amerikaanse beheerliggaam, CONCACAF, sê Infantino moet uittree. CONMEBOL van Suid-Amerika en CAF van Afrika steun hom steeds. Die Franse Sokkerfederasie se president, Philippe Diallo, vra omvattende hervorming van FIFA se bestuur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-12-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-390-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-357-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….