Nuus 17:00
BULLETIN 12 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkpresident, Paul Mashatile, vra hulp by tradisionele leiers om misdaad en armoede te bekamp
# Brown Mogotsi se borgtog-appèl word weer uitgestel
# En padwedlope: Die driemalige Comrades-wenner Bongumusa Mthembu hardloop om die plattelandse jeug te inspireer
# Adjunkpresident Paul Mashatile het tradisionele leiers gevra om ‘n leidende rol te speel in die bekamping van misdaad, armoede, werkloosheid, tienerswangerskappe, dwelmmisbruik en onwettige immigrasie in hul gemeenskappe. Mashatile het tydens ‘n ontmoeting met tradisionele en Khoi-San-leiers in Limpopo gesê tradisionele leiers kan help om misdaadvoorkoming te versterk en kan jeugontwikkeling ondersteun, dwelmmisbruik bestry en ekonomiese geleenthede in landelike gebiede bevorder:
# Die Johannesburgse Landdroshof het die borgtog-appèl van die vermeende politieke tussenganger en omstrede sakeman Brown Mogotsi tot 22 Junie uitgestel. Die staat het die hof meegedeel hulle moet die dossier aan die verdediging bekend maak. Mogotsi se regspan voer aan nuwe feite, insluitend die bevestiging van sy woonadres, regverdig ‘n hernieude borgtog-aansoek. Mogotsi staan tereg op strafregtelike aanklagte nadat hy na bewering sy eie sluipmoord in Vosloorus vervals het, asook aanklagte van regsverydeling, meineed, onwettige vuurwapenbesit en die afvuur van ‘n vuurwapen in die openbaar.
# Die ActionSA Lid van die Provinsiale Wetgewer in Gauteng, John Moodey, het alle Suid-Afrikaners wat in aanmerking kom versoek om te registreer as kiesers tydens die registrasienaweek op 20 en 21 Junie met die oog op die plaaslike regeringsverkiesing in November. Moodey het burgers aangespoor om hul demokratiese reg uit te oefen en deel te neem aan die vorming van die toekoms in hul gemeenskappe. Hy beklemtoon kieserregistrasie is uiters belangrik om verandering in munisipaliteite by die stembus te bepaal:
# Indonesiese owerhede het duisende polisie en soldate ontplooi ter voorbereiding van ‘n studentebetoging. Die studente is kwaad oor die stygende lewenskoste en wil hê president Prabowo Subianto se hoë besteding moet beperk word terwyl die ekonomie toegelaat word om te herstel. Studente van verskeie kampusse regoor Groter Jakarta het naby die Staatspaleis vergader. Meer as vier-duisend sekuriteitspersoneel is ontplooi om die situasie te bestuur. Verskeie van die betogers se eise fokus op die ekonomie, wat inskakel met buitelandse beleggers wat fondse onttrek het en aandele asook die rupia, Asië se swakste geldeenheid hierdie jaar, laat daal het.
# Padwedlope: Die driemalige Comrades-marathonkampioen Bongumusa Mthembu sê hy hoop om aan te hou hardloop om jongmense van plattelandse gemeenskappe te inspireer. Mthembu, wat die ikoniese wedloop in 2014, 2017 en 2018 gewen het, sê hy is vol vertroue dat sy voorbereiding van ses maande hom in ‘n goeie posisie plaas vir Sondag se wedloop tussen Durban en Pietermaritzburg. Hy sê hoewel die wedloop hom altyd gespanne maak, kry hy vertroue deur die werk wat tydens oefeninge gedoen word. Mthembu het toeskouers aangemoedig langs die roete op te daag om die duisende deelnemers te ondersteun.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-418-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-202-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 87-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….