Nuus 17:00
BULLETIN 8 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema vra vir Cyril Ramaphosa se bedanking ná Konstitusionele Hof se uitspraak
# Rusland en Oekraïne veg voort ondanks die skietstilstand
# En rugby, die Springbok Deon Fourie voer vanaand die Stormers aan teen Ulster
# Die EFF-leier, Julius Malema, sê president Cyril Ramaphosa moet bedank nadat die Konstitusionele Hof die Parlement se ampsklagte-reël ongrondwetlik verklaar het in die Phala Phala-diefstalsaak. Hy sê die saak is ernstig en moenie polities wees nie. Malema vra die Parlement om dringend voort te gaan ondanks die streng bepalings wat vir ampsklagte geld. Hy prys ook ‘n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, Nkosazana Dlamini Zuma, oor haar standpunt:
Intussen sê die Presidensie hy het kennis geneem van die Konstitusionele Hof se uitspraak in die saak wat die EFF aanhangig gemaak het rakende Artikel 89-optrede teen president Cyril Ramaphosa. Die hof het die Parlement beveel om sy reëls reg te stel, en die Artikel 89-verslag oor die saak na ‘n ampsklagkomitee te verwys. Woordvoerder Vincent Magwenya sê Ramaphosa gee sy volle samewerking:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het die nuutaangestelde lede van die Varsprodukte-uitvoerbeheerraad verwelkom. Dit is ‘n onafhanklike diensverskaffer van kwaliteitsertifisering en verkoelingsketting-bestuurdienste vir produsente en uitvoerders van bederfbare produkte. Die woordvoerder van die departement, Joylene van Wyk, sê die wêreld se handelslandskap verander en rol van die beheerraad vir onafhanklike en internasionaal erkende sertifikasie en verkoelingsketting-bestuurdienste, is nou nodiger as ooit:
# Rusland en Oekraïne gee mekaar die skuld dat hulle ‘n eensydige tweedaagse skietstilstand oortree het, wat die Russiese president Vladimir Putin aangekondig het vir die herdenking van die Sowjetunie se oorwinning oor Nazi-Duitsland. Die Russiese aanval op Oekraïne in 2022, het die dodelikste konflik in Europa veroorsaak sedert die Tweede Wêreldoorlog, en hul veg steeds voort. Die Russiese Ministerie van Verdediging sê 264 Oekraïnse hommeltuie wat Moskou teiken, is vroeg vanoggend afgeskiet. Die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky sê Russiese magte het deur die nag voortgegaan met aanvalle op Oekraïne.
# Rugby: Die Springbok Deon Fourie neem die Stormers se kapteinskap oor van die beseerde Ruhan Nel vir vanaand se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Ulster in Ierland. Die gereelde kaptein, Salmaan Moerat, is steeds uit met ‘n langtermynbesering, maar kan moontlik fiks wees vir volgende naweek se laaste groepswedstryd teen Cardiff in Wallis. Die veelsydige Fourie sal die nommer ses-trui dra, terwyl Dan du Plessis vir Nel op buitesenter vervang. Die Stormers is tans bo-aan die punteleer, met ‘n goeie kans om ‘n tuiskwarteindstryd te verseker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-881-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-720-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 98-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….