Nuus 17:00
BULLETIN 27 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra die Konstitusionele Hof om die Hooggeregshof se uitspraak oor BTW te handhaaf
# Misdaadintelligensie versuim om die Valke van opsporingstoerusting te voorsien
# En gholf: LIV Golf gaan diemeerderheid van sy werknemers aflê terwyl hy bedrywighede afskaal
# Die nasionale woordvoerder van die DA, Jan de Villiers sê die party vra die Konstitusionele Hof om die Wes-Kaapse Hooggeregshof se uitspraak in sy BTW-geskil te handhaaf. Die DA wil hê Artikel 74 van die Wet op BTW moet ongrondwetlik verklaar word, en voer aan die Parlement, eerder as die minister van Finansies, Enoch Godongwana, moet belastingverhogings bepaal. Hy sê BTW raak Suid-Afrikaners wat sukkel met stygende lewenskoste:
# Die voormalige hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, het voor die Madlanga-kommissie getuig Misdaadintelligensie het die Valke nie toegang gegee tot die opsporingstoerusting wat nodig is om ontvoerings en transito-rooftogte te ondersoek nie. Lebeya sê die Valke vra reeds sedert 2018 vir toegewyde ondersteuning deur Misdaadintelligensie, maar sonder sukses. Hy sê Valke-ondersoekers moes eers hul dossiere vir goedkeuring voorlê voor die toerusting ontplooi kon word:
# Die nuutgestigte politieke beweging, MOVE SA, sê meer as 300 Suid-Afrikaners het na vore gekom, net meer as 30 dae nadat die party gestig is, om munisipale setels onder sy vaandel te betwis. Die president van die party, Rali Mampeule, sê MOVE SA sal in Johannesburg, Ekurhuleni en Emfuleni aan die 2026-plaaslike regeringsverkiesing deelneem. Die kandidate het ‘n induksieprogram in Diepsloot ondergaan te midde van verskerpte voorbereidings. Mampeule sê die party fokus op gemeenskapsgebaseerde leierskap, wat jong en ervare kandidate bymekaarbring om praktiese oplossings te lewer. Die party word amptelik Sondag bekendgestel.
# Lede van Noorweë se koninklike familie is langs koning Harald se hospitaalbed nadat sy gesondheid verder verswak het. Die koninklike paleis sê die 89-jarige monarg se toestand is tans baie ernstig. Koningin Sonja en kroonprins Haakon het hul amptelike verpligtinge gekanselleer en by ander familielede in die Oslo Universiteitshospitaal aangesluit. Harald word behandel vir ‘n ernstige vorm van bloedarmoede en ‘n bakteriële bloedinfeksie. Kroonprins Haakon voer intussen sy pa se amptelike pligte uit.
# Gholf: LIV Golf skaal sy bedrywighede af en gaan volgende week begin om die meeste van sy 300 werknemers af te lê. Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds het sedert Junie 2022 meer as 79,76-miljard-rand belê, maar gaan sy befondsing einde vanjaar beëindig. Die LIV-seisoen het ‘n week vroeër geëindig nadat die span-kampioenskap in Michigan afgelas is. Uitvoerende hoof Scott O’Neil sê onderhandelings duur voort met ‘n voornemende nuwe hoofbelegger en verskeie minderheidsbeleggers:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-404-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-585-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 89-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….