Nuus 16:00
BULLETIN 27 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Godfrey Lebeya onthul Paul O’Sullivan vra oor die vordering met die Phala Phala-ondersoek
# Sasol se onderbreking ontwrig die stralerbrandstof-toevoer op die OR Tambo Internasionale Lughawe
# En rugby: Die Australiese skeidsregter Gardner hanteer nou die tweede toets tussen die Bokke en die All Blacks in Kaapstad
# Die voormalige hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, het voor die Madlanga-kommissie getuig die privaat ondersoeker Paul O’Sullivan het navraag gedoen oor vordering met die Valke se ondersoek na die Phala Phala-saak. Lebeya het geweier om inligting te verskaf omdat ‘n ondersoek nie met privaat individue bespreek mag word nie. Hy het getuig O’Sullivan was saam met president Cyril Ramaphosa se voormalige politieke raadgewer, Bejani Chauke, toe hy navraag gedoen het:
# Lugrederye tref noodmaatreëls nadat ‘n onderbreking by Sasol se Natref-raffinadery die voorsiening van stralerbrandstof op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kemptonpark, Gauteng, ontwrig het. Lugrederye oorweeg om brandstof van ander lughawens te verkry, hoewel dit bedryfskoste kan verhoog omdat vliegtuie meer brandstof verbruik as hul bykomende brandstof vervoer. Volgens News24 is FlySafair en Airlink nog nie geraak nie. Die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne het ‘n noodvergadering met die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika en rolspelers in die bedryf gehou om moontlike oplossings te vind.
# Die Suid-Afrikaanse Vrag- en Logistiekvereniging en die Padvragvereniging vra ‘n verenigde herstelplan om voorspelbare vragvloei deur die Durbanse houer-terminaal te herstel. Die bedryfsliggame sê weeklikse stelselprosesse het met 26-persent gedaal ná die NAVIS-stelselverandering middel Augustus, terwyl vertragings met vaartuie en vragmotors toegeneem het. Die organisasies vra ‘n openbare herstelplan van 30-dae, verbeterde toerusting en stelselbetroubaarheid. Hulle vra ook gesamentlike vragmotor-toegang en regverdige verligting van bergings- en vertragingstariewe wat buite vrageienaars se beheer is
# Die Mediese Fonds vir Staatsamptenare se jaar-simposium in Kaapstad fokus op beter kommunikasie. Voorsitter Nomzamo Tutu sê ingewikkelde terme maak dit moeilik vir lede om hul voordele te verstaan en die gesondheidstelsel doeltreffend te gebruik. Sy sê GEMS moet na sy lede luister, kommunikasie vereenvoudig en inligting oor voordele en dienste beskikbaar stel. Tutu het aan die SABC gesê bekostigbaarheid bly ‘n uitdaging, al is GEMS goedkoper as baie ander fondse:
# Rugby: Die Australiese skeidsregter Angus Gardner sal nou Saterdag se tweede toets tussen die Springbokke en die All Blacks in Kaapstad hanteer. Hy vervang Nika Amashukeli van Georgië, wat siek geword het. Amashakuli sal nou in beheer wees van volgende naweek se derde toets op die FNB-stadion in Johannesburg. Gardner het Dinsdag geblaas in Nieu-Seeland se wedstryd teen die Leeus op Ellispark. Hy is ‘n ervare toetsskeidsregter wat sedert 2011 50 wedstryde hanteer en in drie Wêreldbekertoernooie opgetree het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-535-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-595-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….