Nuus 17:00
BULLETIN 27 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vusimusi ‘Cat’ Matlala ontken enige betrokkenheid by Jerry Boshoga se ontvoeringsaak
# Solidariteit sê die regeringsmislukkings kan lei tot reuse-werksverliese voor Kersfees
# En, die VN stel ‘n digitale veldtog van stapel om die township-ekonomie te moderniseer
# Tendepreneur Vusimusi ‘Cat’ Matlala ontken enige betrokkenheid by die ontvoering in 2024, van Pretoria-sakeman, Jerry Boshoga. In getuienis voor die parlementêre ad hoc-komitee vanuit die Kgoši Mampuru-gevangenis sê Matlala dat hy gehoor het van die voorval by Boshoga se broer. Matlala het bevestig dat hy die geskorste adjunk- nasionale kommissaris van Polisie, Shadrack Sibiya, wat die saak ondersoek het, ontmoet het. Hy ontken enige bande met dwelmhandel, ten spyte daarvan dat hy erken dat Boshoga by dwelms betrokke was:
# Die vakbond Solidariteit sê tot 800-duisend werksgeleenthede kan voor Kersfees en vroeg volgende jaar verlore gaan as die regering nie inspring om smeltoonde, staal- en vervaardigingsbedrywe te red nie. Die vakbond sê maatskappye waarsku oor massa-afleggings weens Eskom se hoë kragpryse, Transnet se swak spoornetwerk en hawedienste, goedkoop ingevoerde staal en uitvoertariewe. Woordvoerder Gideon du Plessis waarsku die situasie word ‘n maatskaplike krisis:
# Die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram het sy DIME-projek onthul om Suid-Afrika se township-ekonomie te moderniseer deur digitale instrumente te gebruik wat voedselveiligheid en sakebedrywighede versterk. Die stelsel integreer digitale identiteit, voorraadbestuur, naspeurbaarheid en e-betalings. Die eerste bekendstelling in Gauteng rus spaza-winkels toe met sagteware en internet-verbinding wat hulle in staat stel om data in te samel en uit te ruil en hulle aan formele sakeregisters te koppel. Die program bevorder nakoming, finansiële toegang en jeug-indiensneming, wat township-kleinhandelaars as ‘n veerkragtige, beleggingsvriendelike deel van die ekonomie posisioneer.
# Pous Leo het in Turkye aangekom vir sy eerste reis buite Italië as leier van die Katolieke Kerk. Hy sal na verwagting pleit vir vrede in die Midde-Ooste en eenheid onder lank-verdeelde Christen-kerke aanmoedig. Buitelandse reise is ‘n belangrike deel van die moderne pousdom, met pouse wat internasionaal aandag trek en geleenthede lei met skares wat soms in die miljoene is, toesprake lewer oor buitelandse beleid en ‘n internasionale diplomatieke rol speel. Die wêreld se Katolieke kardinale het Leo in Mei verkies om wyle Pous Franciskus op te volg.
# Rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap hervat hierdie naweek en al vier Suid-Afrikaanse spanne speel. Daar is groot belangstelling in Saterdagmiddag se Jukskei-derby op Loftus in Pretoria, waar die sesde-geplaasde Bulle om twee-uur teen die agtste-geplaasde Leeus te staan kom. Die voorloper op die punteleer, die Stormers, kan ‘n kwaai stryd verwag teen die onoorwonne Munster in Limerick, Ierland, met afskop die aand 7.30. Later die aand gaan die 13de-geplaasde Haaie hul Europese toer voortsit met ‘n wedstryd teen ‘n ander Ierse span, Connacht, in Galway.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-472-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-151-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….