Nuus 17:00
BULLETIN 21 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ontleder beklemtoon president Ramaphosa is reg om Amerika se afgradering van G20-presidentskapsoorhandiging te verwerp
# Die EU beloof sterk steun aan Afrika op die G20-beraad
# En, Bobtail, Catmor en ander troeteldierkos onttrek oor skimmelgifstof
# ‘n Ontleder van die Universiteit van Johannesburg, Oscar van Heerden, sê president Cyril Ramaphosa het dit duidelik gemaak Suid-Afrika sal nie ondermyn word nadat Amerika besluit het om ‘n lae-vlak afvaardiging na die G20-leiersberaad in Johannesburg te stuur nie. Ramaphosa het geweier om die G20-presidentskap te oorhandig aan ‘n junior verteenwoordiger van die Amerikaanse ambassade. Van Heerden sê die oorhandiging is ‘n hoëvlak-seremonie en waarsku bilaterale spanning kan vererger:
Ook by die G20-beraad, bevestig die president van die Europese Raad, António Costa, Afrika as ‘n strategiese vennoot en prys Suid-Afrika se G20-leierskap. Costa het in Sandton, Johannesburg, die EU se verbintenis tot multilaterale samewerking beklemtoon om globale uitdagings aan te pak, insluitend skuldverligting, klimaatsverandering en volhoubare ontwikkeling. Costa het die unie se pogings uitgelig om Afrika se groei te ondersteun, kritieke mineraalvoorsieningskettings uit te brei en vennootskappe te versterk. Hy het president Cyril Ramaphosa geprys vir die bevordering van solidariteit, gelykheid en multilateralisme:
# Build One South Africa sê president Cyril Ramaphosa se verklaring van geslagsgeweld as ‘n nasionale krisis is betekenisloos sonder optrede. Woordvoerder Roger Solomons sê BOSA vra hom om die register van seksoortreders openbaar te maak om oortreders af te skrik en gemeenskappe te bemagtig. Hy sê ‘n nasionale krisis het geen regsgronde nie. Solomons meen geslagsgeweld moet eerder tot ‘n nasionale ramp verklaar word om werklike bronne, koördinering en toerekenbaarheid op alle regeringsvlakke te verseker:
# RCL Foods het sekere droë troeteldierkos onder sy Bobtail-, Catmor-, Canine Cuisine-, Optimizor-, Ultra Pet- en Superwoof-handelsmerke aan die mark onttrek nadat dit positief getoets het vir verhoogde vlakke van ‘n miko-toksien. Die skimmelgifstof kan op graan soos mielies groei en kan oor die algemeen veroorsaak dat troeteldiere weier om te vreet as die vlakke verhoog is. Tydelike spysverteringsprobleme kan ook veroorsaak word indien diere dit insluk. Die betrokke produkte, wat in Mei en Junie vervaardig is, moet na kleinhandelaars terugbesorg word vir terugbetaling of vervanging.
# Krieket: Indië se kaptein, Shubman Gill, moes onttrek aan die tweede toets teen Suid-Afrika wat môre in Guwahati begin. Hy het sy nek beseer in die eerste toets in Kolkata, wat die Proteas met 30 lopies gewen het. Mediese personeel het gewaarsku die besering kan vererger indien hy sou speel. Rishabh Pant sal nou die gashere aanvoer, met die top-orde kolwer Sai Sudharsan wat na verwagting Gill se plek sal inneem. Spel begin reeds soggens 5:30, Suid-Afrikaanse tyd, as gevolg van vroeë sonsondergange in die oostelike stad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-932-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-65-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….