Nuus 17:00
BULLETIN 5 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die waarnemende minister van Polisie bevraagteken Senzo Mchunu se besluit om die taakspan vir politieke moorde te ontbind
# Die Tiffany Meek-moordsaak is oorgeplaas na die Hooggeregshof vir voorverhoor
# En, ArcelorMittal SA staak produksie by sy Newcastle-aanleg
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê hy kon nie verstaan waarom die geskorste minister, Senzo Mchunu, besluit het om die taakspan vir politieke moorde te ontbind nie. Cachalia het aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê die besluit was op die oog af sonder deeglike redenasie en behoorlike raadpleging. Hy sê die ontbinding het plaasgevind te midde van toenemende politieke moorde, wat die besluit ontydig en moeilik regverdigbaar gemaak het:
# Die saak van die Gautengse vrou Tiffany Meek, wat teregstaan op moord op haar jong seun, is na die Hooggeregshof in Johannesburg oorgeplaas vir ‘n voorverhoor op die 20ste van hierdie maand. Sy het vandag weer in die Roodepoortse Landdroshof verskyn op aanklag van moord en regsverydeling. Dit volg nadat haar elfjarige seun, Jayden-Lee, vroeër vanjaar dood gevind is in hul woonstelgebou in Fleurhof, Johannesburg. Meek bly in aanhouding nadat borgtog geweier is. Sy hou vol sy is onskuldig.
# ArcelorMittal Suid-Afrika het die sluiting van sy Newcastle-aanleg in KwaZulu-Natal bevestig terwyl hy voortgaan om sy langstaalbesigheid onder sorg en instandhouding te plaas. Die maatskappy sê beperkte handel vind plaas om oorblywende voorraad te verkoop te midde van voortgesette oorlegpleging oor ander oplossings. ArcelorMittal het ook aansoek gedoen om verlof tot appél teen ‘n uitspraak van die Arbeidshof wat die heraanstelling van afgelegde werkers beveel. Aandeelhouers word versoek om versigtig te wees wanneer hulle handel dryf met maatskappy-aandele.
# Die Vryheidsfront Plus sê die jongste uitspraak van die Bedingingsraad vir Plaaslike Regering oor salarisverhogings vir werknemers van die Stad Tshwane kan ‘n finansiële ramp van byna twee- miljard- rand vir die metro beteken. Die raad het bevestig dat hy loonverhogings aanvaar het van 3,5-persent terugwerkend van 1 Julie 2023 tot 30 Junie 2024, wat die laaste jaar is van die driejaar-kollektiewe ooreenkoms. Grandi Theunissen van die VF Plus sê die besluit is deur politieke oorwegings beïnvloed in plaas van die finansiële realiteit:
# Gholf: LIV Gholf vergroot sy toernooie van volgende jaar af van 54 na 72 putjies. Die kompetisies sal vier dae duur en toernooie sal Donderdae begin, wat die Saoedi-Arabies-gesteunde liga in ooreenstemming met PGA-toernooie bring. Die 72 putjies kan LIV se heraansoek moontlik maak dat sy toernooie tot wêreldranglys-punte mag bydra. LIV se uitvoerende hoof, Scott O’Neil, sê die uitbreiding versterk die liga en daag sy elite-spelers uit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-43-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-516-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-972-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….