Nuus 17:00
BULLETIN 30 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika verloor 80-duisend werksgeleenthede in die tweede kwartaal van 2025
# Die Kaapstadse hawe verbeter effens op die wêreldranglys, maar bly onder die swakstes in die wêreld
# En tennis: Alcaraz is die Japanse Ope-kampioen en Sinner dring deur na die eindstryd in Beijing
# Altesaam 80-duisend werksgeleenthede het in die tweede kwartaal verlore gegaan in die formele sektor, wat landbou uitsluit. Statistieke SA se Kwartaallikse Arbeidsmagopname toon 229-duisend werksgeleenthede is tussen Junie 2024 en Junie vanjaar verloor. Matlapane Masupye van Statistieke SA sê gemeenskapsdienste het van April tot Junie die meeste werkverliese ervaar. Hy sê die mynbedryf het egter ‘n toename van twee-duisend werksgeleenthede aangemeld en die elektrisiteitsektor het een-duisend werksgeleenthede bygevoeg:
# Die MK-party vra die onmiddellike inhegtenisneming van president Cyril Ramaphosa se neef, Hangwani Maumela, ná die Spesiale Ondersoekeenheid se tussentydse verslag oor korrupsie en plundering by die Tembisa-hospitaal in Gauteng. Die verslag betrek Maumela en die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala by bedrieglike kontrakte en oorhandig ‘n saak wat gereed is vir vervolging aan die Nasionale Vervolgingsgesag. MK se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê geregtigheid sal slegs geskied wanneer die grootkoppe in hierdie misdaadnetwerke aanspreeklik gehou word:
# Die Kaapstadse hawe se plek op die Wêreldbank se hawedoeltreffendheid-ranglys het effens verbeter. Die hawe het wêreldwyd met die meeste punte verbeter op die Wêreldbank se 2024 Houerhawe-aanwyser en S&P Global Market Intelligence. Hy was laaste, maar is nou 400ste uit 403 hawens. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê ondanks die verbetering, is die hawe steeds onder die vyf swakstes in die wêreld. Hy sê dit wys net hoe ver agter die hawe is:
# Die Europese Unie gaan teikens stel vir die vermindering van kweekhuisvrystellings vir 2035 en ’40, betyds vir November se COP30-klimaatberaad in Belém, Brasilië. Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, het by ‘n EU-geleentheid in Brussel die noodsaaklikheid van pragmatisme beken, gegewe die verdeling van lidlande oor die doelwitte. Sy sê Brussel is besig om burokratiese rompslomp te verminder om maatskappye te help met die groen oorgang, en belê in kragnetwerke sodat verbruikers die voordeel van goedkoper hernubare energie sal ervaar.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, is die Japanese Ope-kampioen. Die Spanjaard het die bordjies verhang na sy onlangse nederlaag in die Laver-beker toe hy die Amerikaner, Taylor Fritz in Tokio in skoon stelle verslaan het om sy agtste titel van die seisoen te wen. In Beijing het die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner, die Australiër Alex de Minaur geklop om die eindstryd van die Chinese Ope te bereik. Die Italianer speel môre teen die Amerikaanse tiener Learner Tien nadat die Rus Daniil Medvedev in die derde stel van hul halfeindstryd weens ‘n besering moes onttrek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-290-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-812-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….