Nuus 17:00
BULLETIN 17 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbongeleni Mpangase getuig oor spanning in SAPD ná kokaïenbeslaglegging in Port Shepstone
# Solidariteit behaal ‘n regsoorwinning in ‘n geskil oor vakmansertifikate
# En, Namibië vra vir diens aan ander op Mandeladag
# ‘n Adjudant-offisier van die polisie, Mbongeleni Mpangase, het voor die Madlanga-kommissie getuig luitenant-kolonel Gavin Jacob het gespanne verhoudings met sekere amptenare gehad, insluitend adjudant-offisier Karl Sander. Mpangase het die voorsitter, Mbuyiseli Madlanga, geantwoord oor die operasie in Port Shepstone in 2021 toe beslag gelê is op 541-kilogram kokaïen. Hy het deur sy tolk, Vusimuzi Nkabinde, gesê hy is vir die operasie gekies as gevolg van die spanning in Jacob se afdeling:
# Die vakbond Solidariteit verwelkom ‘n bevel deur die Arbeidshof om die langdurige vertragings met die uitreiking van Rooiseël-sertifikate aan gekwalifiseerde vakmanne te beëindig. Die hof het regeringsdepartemente en vaardigheidsontwikkelingsliggame gelas om voor einde Septemberprobleme met die sertifiseringsproses aan te spreek. Stef Pretorius van Solidariteit sê die vertragings verhoed ambagslui om werk te kry en hul loopbane te bevorder:
# Die adjunk-minister van Wetenskap, Tegnologie en Innovering, doktor Nomalungelo Gina, sê Suid-Afrika is verbind tot die gebruik van wetenskap, tegnologie en innovering om inklusiewe groei te versterk, ontwikkeling te ondersteun en lewensgehalte te verbeter. Sy verteenwoordig die land by UNESCO’s 2026 se wêreldwye konferensie oor die internasionale dekade van wetenskappe en volhoubare ontwikkeling in Parys. Gina sê beleidmaking gegrond op bewyse, internasionale samewerking en bekwame ontwikkeling in praktiese mensgerigte oplossings vir globale uitdagings soos klimaatverandering, voedsel- en waterveiligheid en openbare gesondheid is noodsaaklik.
# Namibië se president, Netumbo Nandi-Ndaitwah, het mense aangespoor om 67-minute te wy aan ander wanneer die wêreld môre Nelson Mandela-internasionale dag vier. Sy het in Pretoria gesê dit vereer Nelson Mandela se 67-jaar van diens en toewyding aan geregtigheid, gelykheid en menswaardigheid. Nandi-Ndaitwah vra mense om sy nalatenskap te eerbiedig deur deernisvolle, betekenisvolle optrede en ‘n gemeenskaplike toewyding aan die bou van ‘n regverdiger, vreedsamer en meer inklusiewe samelewing:
# Rugby: Die All Blacks se afrigter, Dave Rennie, sê elke speler in die toergroep sal tydens die wedstryde teen plaaslike Suid-Afrikaanse spanne kans kry om mee te ding om plekke in toetsspanne. Die toer begin op 7 Augustus in Kaapstad teen die Stormers, gevolg deur wedstryde teen die Haaie in Durban en die Bulle in Pretoria voor die eerste toets teen die Springbokke op Ellispark. Die All Blacks speel daarna in Johannesburg teen die Leeus en dan toetse in Kaapstad en op die FNB-stadion.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 22-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-800-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-972-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 85-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….