Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Inflasie het verder gedaal in Desember
# Die ANC neem ferm standpunt in teen tweeparty-betrokkenheid
# En, rugby: Chasing the Sun 2 word in Maart vrygestel
# Suid-Afrika se jaarlikse verbruikersprysinflasie het in Desember vir die tweede agtereenvolgende maand gedaal, van 5,5-persent in November tot 5,1-persent. Dit is die laagste persentasie sedert Augustus. Die laer koers is weens laer brandstofpryse wat gelei het tot laer vervoerkoste. Statistieke Suid-Afrika sê ook die prys van brood en graan het tussen die twee maande met 0,2-persent gedaal maar was steeds 7,5-persent hoёr as in Desember 2022. Die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee sal môre sy besluit oor rentekoerse bekend maak.
# Die ANC beloof sterk optrede teen sy lede wat betrokke raak by die bedrywighede van ander politieke partye. Hulle is van plan om lede van die register te verwyder indien hulle betrek word by partye wat die ANC teenstaan. Openbare verteenwoordigers wat betrokke is by tweeparty-optrede kan onmiddellik geskors word en sake sal na die provinsiale dissiplinêre komitee verwys word. Die sekretaris van die ANC in KwaZulu-Natal, Bheki Mtolo, vra eenheid en ondersteuning vir president Cyril Ramaphosa in die komende verkiesing:
Die struggle-veteraan Chris Hani se weduwee, Limpho, het oudpresident Jacob Zuma se uMkhonto weSizwe Party intussen gewaarsku teen die misbruik van haar familienaam in hul verkiesingsveldtogte. Alex Mashilo van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party het aan Newzroom Afrika gesê Hani het ook versoek MK-partylede moet van haar man se graf wegbly. Zuma en die MK Party beplan glo om die voormalige SAKP-leier se graf aan die Gautengse Oos-Rand te besoek. Mashilo dra Hani se boodskap duidelik oor haar oorlede man sou nooit met korrupte bedrieërs assosieer nie:
# Rugby: Springbok-ondersteuners kan uitsien na die vrystelling van die tweede deel van die dokumentêr, Chasing the Sun, wat die span se pad na Wêreldbeker-glorie volg. Die eerste deel oor die Bokke se oorwinning in Japan in 2019 was uiters gewild. Dit het die aanloop tot die toernooi uitgebeeld en insig gebied oor hoe daar agter die skerms beplan is. SuperSport sê die tweede reeks word in Maart vrygestel. Hy het ‘n tweede spesiale voorkykie vrygestel, wat insluit kaptein Siya Kolisi wat verduidelik hoekom hy so mal is oor die Bokke.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-30-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-35-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-79-sent per vat.
# Ten slotte: Ryan Gosling bevraagteken waarom sy medester, Margot Robbie, en regisseur, Greta Gerwig, oor die hoof gesien is met persoonlike Oscar-benoemings. Gosling is benoem as ondersteunende akteur vir sy rol as Ken in die treffer-rolprent, met Robbie wat die naamrol vertolk. Die rolprent het altesaam agt benoemings ontvang, insluitend vir beste rolprent en ondersteunende aktrise vir America Ferrera. Gosling sê in sy reaksie daar is geen Ken sonder Barbie nie en geen Barbie-rolprent sonder Gerwig en Robbie, wat die grootste rol gespeel het in die geskiedkundige, wêreldwye-gevierde rolprent nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….