Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA in KZN versoek ‘n dringende inspeksie van die Rampbestuursentrum te midde van oorstromings
# Gautengse inwoners word versoek om ‘n rol by plaaslike klinieke te speel
# En, krieket: Die voorloper op die SA20-punteleer, Durban’s Super Giants, is vandag gashere vir JSK
# Die DA in KwaZulu-Natal vra die voorsitter van die provinsiale portefeuljekomitee vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Zinhle Cele, om ‘n dringende toesigbesoek aan die provinsie se Rampbestuursentrum te bring. Dit is om die instelling se gereedheid en funksionaliteit te beoordeel. Martin Meyer van die DA sê dié versoek volg te midde van die gereelde oorstromings en die vernietigende uitwerking wat klimaatsverandering op die provinsie het:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement doen ‘n beroep op inwoners om ʼn rol te speel in hulle plaaslike kliniekkomitees. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê inwoners het die geleentheid om individue te benoem om op die meer as 370 openbare klinieke in die provinsie se komitees te dien. Hy sê kliniekkomitees speel ʼn noodsaaklike rol om die doeltreffendheid van die bestuur van openbare klinieke te verseker. Modiba sê hulle kan dit doen deur openbare deelname en hulp om die gesondheidsbehoeftes van die gemeenskappe wat hulle dien aan te pak en verantwoordbaarheid te verseker:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie is bekommerd oor skooluniforms en reëls oor leerders se voorkoms. ‘n Studie deur die kommissie onderstreep die belangrikheid van die verlaging van die koste van skoolklere. Die Oos-Kaapse hoof van die kommissie, Eileen Carter, sê Suid-Afrika behoort die doel van uniforms te heroorweeg. Carter het aan eNCA gesê daar behoort prakties opgetree te word met die prysbepaling omdat ouers steeds sukkel met die hoë koste in die huidige ekonomie:
# Die Verenigde Nasies het onthul hy het dié jaar dringend meer as 78-miljard-rand nodig vir humanitêre bystand vir die oorloggeteisterde Oekraïne. Die VN mik na hulp aan 8,5-miljoen mense in die land en 2,3-miljoen vlugtelinge in Oos-Europa. Met die oorlog wat sy derde jaar binnegaan onderstreep ‘n onlangse vlaag aanvalle die dringende behoefte aan bystand, wat vererger word deur ‘n strawwe winter. Die bystandshoof van die VN, Martin Griffiths, sê die vlugtelingkrisis duur voort, met vreesbevange kinders op die voorste linies. Gasheerlande sukkel om onderwys, gesondheidsorg en werk te verskaf, wat die behoefte aan steun laat toeneem te midde van verergerende Russiese aanvalle.
# Krieket: Die voorloper op die SA20-punteleer, Durban’s Super Giants, is vanmiddag die gashere vir die Joburg Super Kings. Die span van Johannesburg is tans vyfde op die punteleer nadat hulle een van hulle vorige wedstryde gewen en een verloor het. Giants het albei hulle eerste twee wedstryde gewen en is saam met Paarl Royals gelyk op agt punte. Môre gaan die derde en vierde spanne op die punteleer, M-I Cape Town en die verdedigende kampioen, Sunrisers Eastern Province, sake uitspook op Nuweland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-663-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-53-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….