Nuus 16:00
BULLETIN 9 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa gee die Madlanga-kommissie meer tyd om sy korrupsie-ondersoek te voltooi
# Die GOOD-party sê die moorde op die Kaapse Vlakte ontbloot die ongelykheidskrisis
# En rugby: Kommer oor Etzebeth se toekoms nadat hy weer harsingskudding opdoen
# President Cyril Ramaphosa het die sperdatum verleng vir die Madlanga-kommissie se ondersoek na misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel. Die kommissie sal nou sy finale verslag op 16 November indien en nie op 31 Augustus nie, terwyl verhore tot 2 Oktober sal voortduur. Woordvoerder Vincent Magwenya sê die verlenging sal die kommissie toelaat om sy ondersoeke te voltooi en al die getuienis onder sy opdrag aan te hoor:
# ActionSA striem die Stad Ekurhuleni omdat hulle nog nie die tugsake van geskorste senior amptenare afgehandel het nie. Xolani Khumalo van die party sê die vertragings ondermyn aanspreeklikheid en raak dienslewering. Khumalo het verwys na die inhegtenisneming van die adjunkhoof van die Metropolisie, Julius Mkhwanazi, die hoof van Korporatiewe Regsdienste, Kemi Behari, en die hoof van Menslike Hulpbronne, Linda Gxasheka. Khumalo versoek die ANC-geleide koalisie om tugprosesse af te handel:
# Die GOOD-party sê die massaskietery in Tafelsig en Philippi-Oos beklemtoon die behoefte aan langtermynoplossings vir geweld op die Kaapse Vlakte. Woordvoerder Joy Kamineth sê wetstoepassing alleen sal nie die onderliggende oorsake van misdaad uit die weg ruim nie en vra Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse regering om maatskaplike en ruimtelike verandering te versnel. Sy sê die fokus moet val op beter lewensomstandighede en die ontwikkeling van veiliger gemeenskappe:
# Die Maatskaplike Sekerheids-agentskap SASSA het begunstigdes wat gekies is vir hersiening gewaarsku om hul naaste kantoor te besoek nadat hulle hul toelaes op die vierde betaaldag ontvang het, of hul toelaes kan opgeskort word. SASSA sê die bykomende betaaldag is vir begunstigdes wat toelaaghersienings of eLife-sertifisering moet voltooi. Woordvoerder Paseka Letsatsi versoek ontvangers om op kennisgewings te reageer en hul kontakbesonderhede by te werk om nie belangrike kommunikasie mis te loop nie.
# Rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth se toekoms wek kommer nadat hy weer harsingskudding opgedoen het. Dit het sy deelname aan die Nasieskampioenskaps-wedstryde in Suid-Afrika beëindig. Hy kon nie verlede naweek op Ellispark teen Engeland speel nie, en gaan ook Saterdag se kragmeting met Skotland op Loftus en volgende naweek s’n teen Wallis in Durban misloop. Etzebeth moes drie maande rus nadat hy binne ‘n jaar drie keer harsingskudding gehad het by Toulon in Frankryk, en het ook die toestand opgedoen in ‘n toets teen Engeland in 2016.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-722-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-107-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….