Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Korrektiewe Dienste bevestig 91 Libiese burgers word aangehou na hulle inhegtenisneming in Mpumalanga
# Prokureurs beveel aan ‘n Gautengse skoolhoof moet aanspreeklik gehou word vir die verdrinking van twee leerders
# En, rugby: Afrigter Joe Schmidt sê die Springbokke sal ‘n volgende vlak uitdaging inhou vir die Wallabies
# Die Departement van Korrektiewe Dineste het die aanhouding bevestig van 91 Libiese butgers wat in hegtenis geneem is by ‘n onwettige militêre basis in Mpumalanga. Woordvoerder Singabakho Nxumalo sê hulle bly in aanhouding tot hulle Maandag weer in die hof moet verskyn. Nxumalo beklemtoon voldoening aan gesondheidsondersoeke, sekerheidsbeoordeling en oriëntasie van die aangehoudenes. Hy gee die versekering van samewerking met wetstoepassing om geregtigheid te laat geskied:
# Seanago-prokureurs het aanbeveel die hoof van die Daveyton Skills School in Benoni, Gauteng, moet aanspreeklik gehou word vir die verdrinking van twee leerders. Sphamandla Peterson en Sibusiso Sibiya het in April verdrink tydens ‘n ongoedgekeurde dissiplinekamp in Centurion. Die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, het op ‘n nuuskonferensie die ondersoekverslag na die tragiese voorval gedeel. Thembekile Graham van die prokureursfima sê die skoolhoof het glo erken hy was nie bewus van die regulasies vir skooluitstappies nie:
# Eiendomsagente ontken bewerings hulle vertraag Suid-Afrika se verwydering van die gryslys. Die jongste statistieke van die Finansiële Intelligensiesentrum toon slegs 66-persent van eiendomsagente het risiko- en voldoeningsverslae ingedien. Die agente beweer die sentrum het sy persentasie voldoening op verkeerde data gegrond. Talle is ook besorg oor ‘n gebrek aan verteenwoordiging oor die voldoeningskwessie op die Finansiële Aksie-taakspan. Ander sektore wat volgens berigte ook die verwydering vanaf die gryslys vertraag, is die verskaffers van trustdienste, regspraktisyns en diensverskaffers aan maatskappye.
# Rugby: Die Rugby-kampioenskap skop volgende Saterdag af met Australië wat Suid-Afrika verwelkom in Brisbane, en Nieu-Seeland wat die gasheer is vir Argentinië in Wellington. Die Wallabies het ‘n nuwe afrigter, Joe Schmidt, wat ‘n perfekte rekord het na drie wedstryde. Twee oorwinnings oor Wallis is gevolg deur nog een oor Georgië. Maar Schmidt sê om met die Springbokke mee te ding, sal ‘n heel nuwe uitdaging wees:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-741-dollar-93-sent. Die prys van goud is twee-duisend-393-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-46-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nasionale Tesourie vra organisasies en individue om aan te sluit by Geldslimweek Suid-Afrika 2024. Dit het ten doel om finansiële geletterdheid te verbeter deur slypskole, aanbiedings en webinare. Vandat dit in 2018 begin is, het die week aansienlik gegroei en bereik talle Suid-Afrikaners. Dit word gehou van 26 Augustus tot 1 September en mense wat belangstel moet teen 16 Augustus registreer om hulle finansiële opvoedingsgeleenthede aan te bied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….