Nuus 17:00
Bulletin 12 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SASSA vra ontvangers van toelae om veranderings in persoonlike omstandighede aan te meld
# Die waarnemende koördineerder van die Nasionale Intelligensie-komitee verduidelik ‘n plan om onwettige mynbou te bekamp
# En, rugby: ‘n Groep van 61 spelers is gekies vir SA Onder-20-akademie-kamp
# Die Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid vra ontvangers van maatskaplike toelae om enige veranderings in hul finansiële, werk- of persoonlike omstandighede, wat hul geskiktheid vir bystand kan raak, aan te meld. SASSA het ontvangers geprys wat vrywillig hulle besonderhede bywerk of hul toelaes kanselleer indien hulle werk gekry of hul finansiële situasie verbeter het. Andile Tshona van SASSA waarsku ontvangers wat voortgaan om toelaes te ontvang al kwalifiseer hulle nie meer nie, sal dalk die geld wat onregmatig ontvang is moet terugbetaal:
# Die waarnemende koördineerder van die Nasionale Intelligensie-koördineringskomitee, Ntandazo Sifolo, sê onwettige mynbou word amptelik beskou as ‘n nasionale veiligheidsbedreiging ná oortredings van burgers se regte. Sifolo het voor die Madlanga-kommissie getuig die komitee is gevra om die werk van staatsdepartemente, soos die polisie en mynowerhede, te koördineer vir ’n gesamentlike ingrypingsplan. Sifolo sê ‘n aanbeveling is gemaak om fondse uit die bate-herwinningsrekening te gebruik om pogings teen onwettige mynbou te befonds:
# Die parlementêre gekose komitee oor Sekuriteit en Justisie sê oorbevolking in tronke en die voortslepende hoë aantal aangehoudenes bly ‘n bron van kommer. Suid-Afrikaanse tronke is oorvol en word bedryf teen ongeveer 63-persent meer as hulle amptelike vermoë. Daar is tans 30-duisend-289 buitelanders in Suid-Afrikaanse tronke. Die komiteevoorsitter Jane Seboletswe Mananiso sê die Departement van Korrektiewe Dienste moet memorandums van verstandhouding met buurlande sluit om die beheer en repatriasie van buitelanders te hanteer:
# ‘n Amerikaanse baba wat 24-uur lank lewend begrawe was, gaan na verwagting te volle herstel. Die elf-maande-oue Koah Sharpe is Dinsdag gered nadat sy pa hom in ‘n handdoek toegedraai, in ‘n hondekrat gesit en in ‘n vlak graf begrawe het. Soekgeselskappe het hom hoor huil en uitgehaal. Die 25-jarige pa, Michael Comer, is aangekla van poging tot moord. Koah is in die sorg van familielede geplaas nadat hy uit die hospitaal ontslaan is. Die polisie sê hy sal waarskynlik nie sy beproewing onthou wanneer hy groot is nie.
# Rugby: Ses lede van die Junior Springbokspan wat aan vanjaar se Junior-wêreldkampioenskap in Georgië deelgeneem het, is onder 61 spelers wat gekies is vir die SA-onder-20-Akademie-kamp in Stellenbosch van 23 tot 27 November. Hulle is die stutte Jordan Jooste en Luan van den Berg, die losvoorspelers Wasi Vyambwera en Gert Kemp, die skrumskakel Jayden Brits en die vleuel Jordan Steenkamp. Hoofafrigter Kevin Foote sê die fokus sal wees om hulle bekend te stel aan die wedstrydplan en die standaarde en verwagtinge om die Junior Bokke se verteenwoordig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-68-sent teen die dollar, 18-rand-49-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-763-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-934-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 94-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….