Nuus 16:00
BULLETIN 12 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa waarsku onreg kan demokrasie verswak
# TLU SA ondersteun die Nasionale Motorfiets-rit teen plaasaanvalle
# En: Woolworths-aandele tuimel ná teleurstellende kosverkope
# President Cyril Ramaphosa sê die gaping tussen die belofte van geregtigheid en mense se werklike ervaring moet oorbrug word om demokrasie te beskerm. Ramaphosa het op die Internasionale Konferensie oor Toegang tot Geregtigheid in Sun City, Noordwes, gewaarsku herhaaldelike onreg ondermyn openbare vertroue in demokratiese instellings. Ramaphosa sê vertroue in die regstelsel verswak wanneer arm mense glo die wet beskerm die rykes, terwyl korrupsie en misdaad sonder gevolge bly:
# Die landbou-organisasie, TLU SA, sê hy waardeer elke individu en organisasie wat help om die wrede werklikheid van plaasaanvalle in die land onder die publiek se aandag te bring. Die organisasie het sy ondersteuning uitgespreek vir die Nasionale Motorfiets-rit teen plaasaanvalle wat op ses Desember landwyd op verskeie plekke gehou sal word. Bennie van Zyl van TLU SA sê dit gaan nie oor politieke partye of persoonlike belange nie, maar omdat hulle by boere staan:
# Woolworths se aandele het gister met byna nege-persent gedaal nadat ‘n handelsverklaring getoon het sy voedselafdeling het slegs 1,9-persent omsetgroei gelewer. Met pryse wat met drie-persent gestyg het, is verkoopsvolumes geraak, terwyl groei in vergelykbare winkels onveranderd gebly het. Gryphon Batebestuur se portefeuljebestuurder en navorsingsontleder, Casparus Treurnicht, beskryf die uitslae as van die swakste in ‘n lang tyd. Die mode-, skoonheid- en huisware-afdelings het ook ‘n daling van 0,3-persent in verkope aangeteken. Woolworths blameer die uitdagende handelsomgewing in Suid-Afrika vir sy swak vertoning.
# Die Namibiese vleiskorporasie Meatco sê sy maandelikse salarisrekening vir byna 800 werknemers is onvolhoubaar sonder uitvoer-inkomste. Internasionale beesvleis-uitvoere is in September opgeskort na die uitbreking van bek-en-klouseer. Internasionale markte dra gewoonlik sowat 85-persent van Meatco se inkomste by. Die maatskappy het die slag van diere opgeskort tot sy finansiële en bedryfsomstandighede toelaat dat dit volhoubaar hervat kan word. Woordvoerder Undamuje Hambira sê die raad ondersoek moontlikhede om poste te beskerm en volhoubare bedrywighede te herstel:
# Krieket: Australië se kaptein, Pat Cummins, het toegegee aan druk en gaan antwoord op sy gewese spanmaat Usman Khawaja se onthullings oor die berugte skuurpapier-skandaal in Suid-Afrika in 2018. Khawaja beweer die hele span het geweet van die plan om die bal met skuurpapier grof te maak tydens die toetsreeks, hoewel slegs kaptein Steve Smith, onderkaptein David Warner en die bouler Cameron Bancroft gestraf is. Cummins was ook deel van die span. Hy sê hy het tyd geneem om die bewerings behoorlik te verstaan en sal môre daarop reageer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 18-rand-46-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-991-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-948-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….