Nuus 17:00
BULLETIN 6 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die RGN verklaar die 2026 plaaslikeregeringsverkiesing vry en regverdig met kiesersgoedkeuring van 90%
# ActionSA sê hy is oop vir koalisiegesprekke om die heraanstelling van Nasiphi Moya as Tshwane burgemeester te verseker
# En, die Deense polisie ondersoek nuwe dreigemente op die lughawe in Kopenhagen
# Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing sê die plaaslikeregeringsverkiesing van 4 November was vry en regverdig. ’n Opname onder meer as 13-duisend kiesers toon dat 90-persent geglo het die verkiesings was vry, en 91-persent het gesê dit was regverdig. Die meeste kiesers was ook tevrede met die diens wat deur verkiesingsbeamptes gelewer is. Benjamin Roberts van die RGN het aan die media gesê die Verkiesingskommissie moet werk aan die herstel van openbare vertroue en die verbetering van toegang tot verkiesingsinligting:
# ActionSA sê hy is bereid om ná die plaaslikeregeringsverkiesing met enige politieke party te onderhandel om ’n verdere termyn van vyf jaar vir Tshwane se burgemeesterskandidaat Nasiphi Moya te verseker. Die nasionale voorsitter van ActionSA, Michael Beaumont, sê potensiële koalisievennote moet hulle verbind tot dienslewering, politieke bestendigheid, die bekamping van korrupsie en die aanspreek van onwettige immigrasie. Hy sê die party sal nie leiers ondersteun wat ’n geskiedenis van korrupsie of mislukkings het nie en dring aan op geloofwaardige leierskap:
# Die Minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, David Maynier, verwelkom die skuldigbevinding van ‘n man wat vyftig beskermde papegaai-eiers uit Suid-Afrika wou smokkel. Hy is op O.R. Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng vasgetrek toe hy probeer het om die land met die eiers te verlaat. Maynier sê die Thaise burger is tot vyf jaar tronkstraf of ‘n boete van 500-duisend-rand gevonnis. Hiervan moet 300-duisend-rand aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut betaal word vir die versorging van die eiers:
# Die Deense polisie ondersoek hernude dreigemente teen lugverkeer op die Kopenhagen-lughawe, maar sê voorlopige evaluering toon geen gevaar vir passasiers nie. Polisie-teenwoordigheid is op die lughawe verskerp, wat steeds oop is. Die ondersoek volg na twee vliegtuie Donderdag deursoek is weens ‘n veiligheidsdreigement, maar ‘n militêre plofstofeenheid het geen plofstowwe gevind nie. Die jongste voorval volg te midde van ‘n vlaag vals bomdreigemente in Europa wat Donderdag tientalle vlugte ontwrig het, terwyl sommige vliegtuie noodlandings moes uitvoer en vegvliegtuie selfs ingespan is om ander te begelei.
# Sokker: Die erepresident van Japan se beheerliggaam, Kozo Tashima, is verkiesbaar vir FIFA se presidentskap en sal in Maart volgende jaar teen Gianni Infantino meeding. Die 68-jarige lid van FIFA se raad sê hy wil integriteit en hoë morele standaarde handhaaf en bydra tot ‘n beter toekoms vir die sport. Tottenham Hotspur se voormalige verdediger, Ramon Vega, het verlede maand die eerste kandidaat geword wat in die openbaar verklaar het hy wil Infantino uitdaag. Potensiële kandidate het tot 18 November tyd om hulle benoemings in te dien.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 18-rand-45-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-886-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-65-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 101-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….