Nuus 16:00
BULLETIN 16 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Polisie kondig voortgesette pogings aan teen die konstruksiemafia
# Russiese opposisieleier sterf in tronk
# En die VF Plus sê premier Lesufi moet Orania eerder sien as ‘n rolmodel vir goeie dienslewering
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, het ‘n toename in inhegtenisnemings teen die konstruksiemafia aangemeld, met 61 verdagtes wat sedert April aangekeer is. Noemenswaardige suksesse sluit in die verhindering van ‘n afpersingspoging op ‘n behuisingsprojek ter waarde van 320-miljoen-rand in Randfontein, Gauteng. Cele het ‘n nuuskonferensie gehou oor die kwartaallikse misdaadstatistiek en sê die Wes-Kaap het aansienlike vordering getoon met die uitroei van die konstruksiemafia, wat gelei het tot die inhegtenisneming van beweerde sleutelfigure soos Ralph Stanfield en Nafiz Modack:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die nasionale dialoog oor koalisies onder leiding van die regering toon koalisies is nie in hierdie stadium die beste oplossing nie, gegewe Suid-Afrika se uiteenlopende samelewing. Hy het ‘n ANC-vergadering met Palestine Solidarity by die Riverside-moskee in Durban toegespreek. Mashatile sê dis die rede waarom die ANC ʼn beroep doen op leiers en gemeenskapslede om die party en sy visie vir Suid-Afrika te ondersteun.
# Die Russiese opposisieleier, Alexei Navalny, is in die tronk dood. Hy het tronkstraf van 19 jaar in die Arktiese gevangenis-kolonie uitgedien. Rusland se federale gevangenisdiens sê Navalny het sy bewussyn verloor nadat hy gaan stap het en mediese personeel kon hom nie bybring nie. Die land se Ondersoekkomitee sê hulle het ʼn ondersoek na sy dood begin. Russiese nuusagentskappe haal president Vladimir Putin se woordvoerder aan wat sê die president is van Navalny se dood in kennis gestel. Die 47-jarige Navalny het ʼn groot aanhang gehad weens sy kritiek teen korrupsie in Rusland.
# Rugby: SA Rugby se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, het ʼn ope brief aan Suid-Afrikaners geskryf om vrese dat die Springbokke verkoop word, te besweer. Oberholzer sê SA Rugby beraadslaag met ʼn privaat beleggingsmaatskappy om in sy toekomstige finansiële groei te belê. Indien die ooreenkoms goedgekeur word, sal die maatskappy ʼn minderheidsaandeel in die kommersiële regte van SA Rugby se aktiwiteite verkry. SA Rugby sal die meerderheidsaandeelhouer bly. Oberholzer sê hierdie proses is nie gemik op ʼn vinnige kontantinspuiting nie. Die doel is om die langtermyn- finansiële volhoubaarheid van die spel te verseker.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-343-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-sewe-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-18-sent per vat.
# En ten slotte, die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê die aanvalle wat premier Panyaza Lesufi op Orania afgestuur het, is belaglik. Die party sê hy moet eerder ‘n bietjie dieper kyk na die lesse wat hierdie Noord-Kaapse gemeenskap hom oor openbare bestuur en dienslewering kan leer. Anton Alberts van die VF Plus sê Lesufi se opportunistiese en populistiese aanvalle is ‘n desperate poging om die aandag weg te lei van sy eie onvervulde beloftes, waaroor hy Maandag tydens sy jaarlikse provinsiale rede verslag moet doen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….