Nuus 16:00
BULLETIN 26 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Danny Jordaan se bedrogsaak word uitgestel sodat die verdediging op staatsbetoë kan reageer
# Krieket: Die Protea-vrouespan is vasbeslote om hul eerste senior IKR-titel te verower
# En die Suid-Afrikaanse ster Tyla skitter op die wêreldverhoog tydens die Amerikaanse musiektoekennings
# Die Johannesburgse Handelsmisdaadhof in Palm Ridge het die saak van bedrog en diefstal teen die president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, Danny Jordaan, en sy medebeskuldigdes tot 27 Augustus uitgestel. Dit sal die verdediging kans gee om te reageer op die staat se betoë oor beweerde vertragings met die finalisering van die saak. Jordaan, die gewese SAFA-amptenare Grown Hluyo en Russell Pauw, en die oud-joernalis en direkteur van Grit Communications, Trevor Neethling, staan tereg op aanklag van onwettige ooreenkomste en betalings van meer as ‘n miljoen-rand.
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die party is verenig en gefokus op die herstel van plaaslike regering voor die komende plaaslike verkiesing. Hy het ná die Nasionale Uitvoerende Komitee se vergadering gesê die party het planne aanvaar om sukkelende munisipaliteite te verbeter, infrastruktuurlewering te versnel en watertekorte aan te pak. Mbalula sê die ANC verskerp ook pogings om sy ekonomiese plan in te stel, insluitend werkskepping en ekonomiese groei:
Nuus uit die buiteland:
# Verskeie mense is dood in ‘n botsing tussen ‘n trein en ‘n skoolvervoer-minibus in Buggenhout, België. Die Vlaamse openbare uitsaaier VRT berig die minibus, met sewe kinders, ‘n toesighouer en die bestuurder was op ‘n spooroorgang in die dorp toe die ongeluk plaasgevind het. Federale polisiewoordvoerder An Berger sê die botsing was kort na 6-uur die oggend, toe die oorgang se versperrings gesak was. Niemand op die trein is beseer nie.
# Krieket: Die kaptein van die Protea-vrouespan, Laura Wolvaardt, sê hulle is vasberade om die T20-Wêreldbeker te wen, wat volgende maand in Engeland afskop. Suid-Afrika het in drie agtereenvolgende jare drie eindstryde gehaal, waarvan twee op die onlangse T20-Wêreldbekertoernooie was. Die Proteas skop hul veldtog op 13 Junie teen Australië af, gevolg deur wedstryde teen Pakistan, Indië, Nederland en Bangladesj. Wolvaardt sê hulle is in ‘n taai groep:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-879-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-508-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 96-dollar-6-sent per vat.
# En ten slotte: Die Johannesburgs-gebore sangeres Tyla het twee toekennings losgeslaan op die 52ste Amerikaanse musiektoekennings in Las Vegas. Sy het sterre soos Burna Boy en Wizkid geklop toe sy die toekenning vir Beste Afrobeats wen, en haar treffer Chanel is aangewys as Sosiale Liedjie van die Jaar. Tyla is die eerste internasionale kunstenaar wat hierdie toekenning wen. Die treffer is reeds meer as 354-miljoen keer gestroom op Spotify en het Tyla die eerste Afrika-kunstenaar gemaak om verskeie top-tien treffers op die wêreldwye Spotify-trefferlys te behaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….