Nuus 16:00
BULLETIN 28 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vrae oor uitgelekte tenders oorheers die Madlanga-kommissie se verhoor
# March and March ruk op na die Uniegebou om wet en orde te eis
# En tennis: Sinner dring deur na die kwarteindronde in Madrid
# Die Madlanga-kommissie het die adjunkhoof van die Tshwane-metropolisie, Umashi Dhlamini, ondervra oor interne tenderdokumente wat gedeel is met die geskorste polisiesersant Fannie Nkosi. Dhlamini beweer die inligting was nie vertroulik nie, maar kommissaris Sesi Baloyi verwerp dit en sê die dokument is wel vertroulik en intern verkry. Dhlamini getuig oor sy rol in die tenderproses. Baloyi het hom gevra waarom Nkosi nie verwys is na gemagtigde amptenare nie:
# Die groep March and March wat teen onwettige migrasie gekant is, het voor die Uniegebou in Pretoria betoog dat wet en orde herstel moet word. Die groep gee onwettige migrante die skuld vir toenemende werkloosheid, misdaad en druk op openbare dienste, wat kritiek ontlok het oor buitelanders wat as sondebokke gebruik word. Woordvoerder Jacinta Ngobese-Zuma verwerp bewerings van xenofobie en sê die versetoptrede gaan oor die afdwinging van die regsorde:
# ‘n Raadslid van Rand Water, Ramateu Monyokolo, sê watersekerheid sal die mynbousektor se toekoms bepaal. Monyokolo sê mynbou, hoewel noodsaaklik vir die ekonomie, is uiters waterintensief en die gevaar bestaan dat ekostelsels beskadig kan word deur besoedeling en oorbenutting. Hy het aan Engineering News gesê goeie bestuur, verantwoordelike waterbestuur en samewerking tussen die reguleerders en die bedryf is noodsaaklik. Monyokolo beklemtoon die Departement van Water en Sanitasie se projekte is daarop gemik om groei en volhoubaarheid te balanseer en te verseker waterbronne ondersteun ekonomiese ontwikkeling en gemeenskappe.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, het deurgedring na die kwarteindronde van die Madridse Ope in die Spaanse hoofstad. Die Italianer het Brittanje se beste speler, Cameron Norrie, in skoon stelle verslaan in die ronde van 16 in hul heel eerste ontmoeting. Sinner is steeds op koers om die eerste man ooit te word wat vyf Meesters-een-duisend-toernooie agtereenvolgens wen nadat hy die titels in Parys, Indian Wells, Miami en Monte-Carlo verower het. Die Fransman Arthur Fils het vroeër die Argentyn Tomas Martin Etcheverry uitgeskakel, ook in skoon stelle.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-42-sent teen die euro en 22-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-214-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-574-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-4-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens het Suid-Afrika se eerste Nasionale Diabetes-paneelbord bekendgestel, in vennootskap met die Gautengse Gesondheidsdepartement, Nasionale Voorkeurprogramme en Wits se sentrum vir diagnostiese vernuwing. Die stelsel verskaf feitlik onmiddelike nasionale data oor diabetes-beheer, wat binne 48-uur bygewerk word om vinniger identifisering van hoëgevaar-pasiënte en verbeterde kliniese reaksie moontlik te maak. Die uitvoerende hoof van die laboratorium, Koleka Mlisana, sê die platform verskuif verslagdoening na onmiddelike reaksie, wat besluitneming versterk en pasiënte se gesondheids-uitkomste verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….