Nuus 16:00
BULLETIN 20 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa stel ‘n groeiteiken van drie-persent terwyl die derde fase van die regering- en sakevennootskap begin
# Nosiviwe Mapisa-Nqakula se saak word uitgestel tot 31 Augustus vir betoë
# En rugby: Sacha is Saterdag losskakel en De Allende speel sy 100ste toets teen die All Blacks
# President Cyril Ramaphosa het ‘n teiken gestel vir die mobilisering van drie-duisend-miljard-rand se beleggings met die aanvang van die derde fase van die vennootskap tussen die regering en sake-ondernemings. Hy het tydens die bekendstelling in Johannesburg gesê die nuwe fase sal fokus op ekonomiese groei, werkskepping en beleggersvertroue. Ramaphosa sê die regering wil ekonomiese groei bo drie-persent lig, met toerisme, landbou, landbouverwerking en mynbou onder die belangrikste sektore:
# Die Hooggeregshof in Pretoria sal die betoë oor die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se aansoek om ontslag kragtens Artikel 174 van die Strafproseswet die 31ste aanhoor. Die staat het sy saak gesluit, terwyl die verdediging aanvoer aanklaers het nie daarin geslaag om ‘n prima facie-saak te bewys nie. Mapisa-Nqakula staan tereg op 12 aanklagte van korrupsie en een van geldwassery vir ‘n Suid-Afrikaanse militêre logistieke kontrakteur in ruil vir invloed rakende verdedigings-kontrakte terwyl sy minister van Verdediging was. Sy het onskuldig gepleit.
# Die geskorste parlementslid en leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, is gewaarsku om nie herhaaldelik op die oorlede afgetrede generaal-majoor André Lincoln staat te maak om sy getuienis voor die Madlanga-kommissie te staaf nie. Getuienisleier Lee Segeels-Ncube het Adams uitgedaag oor bewerings polisiedossiere is onderskep en gevra watter bewyse hierdie bewerings ondersteun. Adams het sy standpunt verdedig en gesê hy glo polisielede beskerm mekaar:
# Ondersoeke na die noodlottige gebou-instorting in Ormonde, Johannesburg, het bevind balke en kolomme wat die betrokke betonblaaie gesteun het, was nie sterk genoeg vir die bykomende las nie. Nege werkers is dood en ses beseer toe ‘n deel van die tweede verdieping vroeër vanjaar ingetuimel het. Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê ondersoekbeamptes het kommer uitgespreek oor boupermitte en gesondheids- en veiligheidsaanstellings:
# Rugby: Damian de Allende sal sy 100ste toets vir die Springbokke speel as Jesse Kriel se sentermaat in Saterdag se eerste toets teen die All Blacks op Ellispark. Hy word die tiende Suid-Afrikaner wat hierdie mylpaal bereik. Afrigter Rassie Erasmus het Pieter-Steph du Toit as kaptein gekies in die afwesigheid van Siya Kolisi, met Sacha Feinberg-Mngomezulu en Grant Williams die skakelpaar. Manie Libbok en Cobus Reinach is die twee agterspelers op die bank. Ox Nché keer terug van ‘n besering om die skrum te anker in die nommer een-trui.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-764-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-458-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….