Nuus 15:00
BULLETIN 20 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Swak steunstrukture het die gebou-instorting in Ormonde veroorsaak
# Die Bestuurder van ‘n tenkwa word gered terwyl die N3 gesluit bly
# En, rugby: Die All Blacks kies ‘n sterk span vir eerste toets teen die Bokke
# Ondersoeke na die noodlottige gebou-instorting in Ormonde, Johannesburg, het bevind balke en kolomme wat die betrokke betonblaaie gesteun het, was nie sterk genoeg vir die bykomende las nie. Nege werkers is dood en ses beseer toe ‘n deel van die tweede verdieping vroeër vanjaar ingetuimel het. Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê ondersoekbeamptes het kommer uitgespreek oor boupermitte en gesondheids- en veiligheidsaanstellings:
# Die geskorste parlementslid en leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, het toegegee dat die afgetrede generaal-majoor van die polisie, André Lincoln, hom moontlik mislei het oor inligting rakende Misdaadintelligensie. Hy het aan die Madlanga-kommissie gesê hy het Lincoln geglo vanweë sy uitgebreide kennis van die Polisiediens en die misdaadwêreld. Adams het moontlike waninligting aanvaar nadat kommissaris Sesi Baloyi en voorsitter Mbuyiseli Madlanga bewyse voorgelê het:
# Die N3 naby Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal bly gesluit nadat ‘n dieseltenkwa vanoggend gebots en aan die brand geslaan het. Die bestuurder is gered. Die voorval het op die noordwaartse rybaan gebeur, maar die voertuig het die middelman oorgesteek en aan die suidelike kant tot stilstand gekom. Brandstof het uitgelek en noodspanne het die gebied beveilig. Die N3 is gesluit voor die Peter Brown-rylaan-afrit in die rigting van Durban. Verkeersowerhede het motoriste aangeraai om die gebied te vermy en intussen die ompad by die Cedara-wisselaar te gebruik.
# Die batebestuursmaatskappy Westbrooke het meer as 750-miljoen-rand belê in drie Suid-Afrikaanse stigtersgeleide en familie-ondernemings. Die beleggings behels ‘n toerusting-verhuringsmaatskappy, ‘n verspreider en kleinhandelaar in familiebesit, en ‘n Wes-Kaapse nywerheids-eiendomsbeleggingsgroep. Westbrooke sê die vennootskappe sal organiese en verkrygingsgroei steun terwyl stigters en bestuurspanne noemenswaardige eienaarskap en betrokkenheid behou. Die maatskappy sê verbeterende handelsvooruitsigte en politieke bestendigheid moedig ondernemings aan om uitbreiding en opvolgbeplanning na te streef.
# Rugby: Die All Blacks se hoofafrigter, Dave Rennie, het ‘n baie sterk groep aangewys om die Springbokke Saterdag op Ellispark te pak. Kaptein Ardie Savea keer terug saam met die ster-regtervleuel Will Jordan en die skrumskakel Cam Roigard, wat almal hul eerste verskynings op toer maak. Damian McKenzie keer ook terug van ‘n besering om op heelagter uit te draf. Die linkervleuel Anton Segner en die losvoorspeler Josh Moorby is ook gereed om Suid-Afrika die eerste keer te pak in die langverwagte openingstoets van Rugby’s Greatest Rivalry.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-14-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-868-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-487-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 95-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….