Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa beklemtoon verkiesing-manipulasie is onmoontlik in Suid-Afrika
# Die IVP Jeugbrigade vra die verwydering van ministers Nzimande en Motshekga
# En, krieket: Die Proteas kry ‘n voorsmakie van die toestande in Nieu-Seeland
# President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrikaners gerusgestel oor die komende algemene en provinsiale verkiesing en sê daar sal nie stem-manipulasie wees nie. Ramaphosa het in ‘n onderhoud met die SABC vertroue in die Verkiesingskommissie uitgespreek en prys dit as een van die beste verkiesingsagentskappe ter wêreld, wat in staat is om doeltreffende en regverdige verkiesings te hou. Hy beklemtoon Suid-Afrika het sterk inligting-stegnologiestelsels en deursigtigheidsmaatreëls ingestel. Ramaphosa het ook bevestig die ANC sal die verkiesingsuitslae aanvaar.
# Die Jeugbrigade van die Inkatha-vryheidsparty vra Ramaphosa om die kabinet te skommel. Hulle is veral toegespits op die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, en die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga. ‘n Woordvoerder van die brigade, Sanele Zondo, sê die chroniese onderprestasie en gebrek aan aanspreeklikheid in hierdie departemente het openbare vertroue afgetakel en vertroue geskend in die regering se vermoë om ingevolge sy mandaat te presteer en gehalte onderwys te lewer:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie is bekommerd oor onlangse rassediskriminasie en toenemende geweld in Groblersdal, Limpopo. Dit volg nadat twee boere aangekla is dat hulle ʼn sekerheidswag aangerand en ʼn hond op hom gesit het. Die kommissie veroordeel die vertoon van die ou Suid-Afrikaanse vlag, wat as haatspraak verklaar is, by die Landdroshof op Groblersdal. Die kommissie versoek al die partye om kalm te bly en om hulle aan die beginsels van die demokrasie te onderwerp. Piet Groenewald en sy stiefseun, Stephan Greef, het vandag in die hof verskyn vir ʼn borgtogaansoek.
# Krieket: Die Proteas se opwarmingswedstryd teen ʼn Nieu-Seelandse Elftal in Lincoln, het vandag onbeslis geëindig. Suid-Afrika was na 31 beurte op 91 vir twee in die tweede beurt, met ʼn voorsprong van 136 lopies, toe die spelers blad geskud het. Kaptein Neil Brand op 11, Raymond van Tonder op 23 en Clyde Fortuin op 30, het uitgetree. Die eerste toets tussen Nieu-Seeland en die Proteas begin Sondag in Mount Maunganui en die tweede op 13 Februarie in Hamilton.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-473-dollar-39-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-37-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-63-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Navorser aan die Universiteit Stellenbosch, Zara Trafford, sê die sorgafhanklikheidstoelae vir gestremde kinders is onvoldoende. Dit versuim om die maatskaplike beskerming van hul gesinne te verseker. Trafford sê vir gesinne met ‘n minimale of geen ander inkomste nie, kan die toelaag nie die bykomende koste dek om kinder-gestremdheid te hanteer nie. Selfs diegene wat toegang verkry, verkeer in gevaar van uiterste armoede. Trafford sê die toelaag is ‘n onderwerp wat nie genoeg nagevors is nie, in vergelyking met die kinderondersteuningstoelaag vir armoedeverligting en die volwasse ongeskiktheidstoelaag:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….