Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Internasionale Geregshof beslis ten gunste van Suid-Afrika in sy volksmoordsaak teen Israel
# UJ het nie plek om ‘n groot aantal aansoeke te hanteer nie
# En, sokker: Jürgen Klopp skok met die aankondiging dat hy Liverpool verlaat
# Die Internasionale Geregshof het ten gunste van Suid-Afrika beslis en geëis dat Israel onder meer probeer om dood en verwoesting in die Gazastrook te verhoed, maar nie ‘n skietstilstand gelas nie.
# Die DA prys die ministerie van Indiensneming en Arbeid se besluit om saam te werk aan ‘n instellingsooreenkoms vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Werkloosheidsversekeringsfonds om indiensnemingsdata te deel. Die SAID samel tans 98-persent van WVF-bydraes in, maar die omvattende betaalstaat-data word nie gedeel nie. Die voorgestelde gesamentlike ooreenkoms poog om prosesse te stroomlyn, handmatige indiening uit te skakel en WVF-eisverwerking te verbeter. Die DA-lid, Traverse le Goff, vra die departement om samespreking met die SAID te bespoedig om bepalings vir die deel van data te finaliseer:
# Die Universiteit van Johannesburg sê plek by die instelling is weens ‘n gebrek aan ruimte nie gewaarborg nie omdat alle aansoekers wat aan die minimum vereistes voldoen, nie aanvaar kan word nie. UJ se registrateur, Bettine van Vuuren, het erken sommige studente het frustrasie uitgespreek omdat hulle uit kursusse verwyder is waarvoor hulle aanvanklik goedgekeur is. Sy voeg by gesigsherkenning is ʼn streng veiligheidsmaatreël om registrasie te verseker. Van Vuuren sê die instelling is die eerste Suid-Afrikaanse universiteit wat hierdie tegnologie gebruik:
# Die polisie in Mpumalanga stel ondersoek in na die noodlottige skietery van ‘n vroulike mynbestuurder. Die 27-jarige slagoffer was op die punt om werk toe te gaan toe die voorval plaasgevind het. Luidens ‘n polisieverslag is sy met koeëlwonde aan haar bolyf gevind en op die toneel dood verklaar. Die motief agter die moord moet nog vasgestel word en niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie. Die provinsiale polisiekommissaris, Semakaleng Manamela, het die voorval veroordeel en gevra dat die saak vinnig ondersoek word.
# Sokker: Jürgen Klopp het onverwags bekendgemaak hy ontruim sy pos as bestuurder van Liverpool aan die einde van die seisoen. Hy is in Oktober 2015 aangestel en sy kontrak strek tot in 2026. Die 56-jarige Duitser sê hy het die Engelse klub reeds in November van sy voorneme verwittig en sê sy blus is uit. Liverpool het onder Klopp se bestuur ses trofeë verower, insluitende dié vir die Kampioeneliga in 2019 en die Premierliga die daaropvolgende jaar. Die span is tans bo-aan die Premierliga en het gekwalifiseer vir die eindstryd van die Carabao-bekertoernooi.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-378-dollar-42-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-23-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-29-sent per vat.
# Ten slotte: Twee Suid-Afrikaanse leerders het die geleentheid ontvang om hul kundigheid in wetenskap op vanjaar se Internasionale Wetenskapsfees in Taiwan ten toon te stel. ‘n Graad 12-leerder aan die Sekondêre Skool Zinniaville in Noordwes, Lethabo Molobi, en ‘n graad 11 aan die Hoërskool Jim Fouché in die Vrystaat, Jaco Deysel, is gekies op grond van hul uitstaande werk verlede jaar, tydens Eskom se Internasionale Ekspo vir Jong Wetenskaplikes. Patty Chetty van die Eskom Ekspo, sê die fees begin môre en duur tot volgende Vrydag:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….