Nuus 16:00
BULLETIN 27 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA dien strafregtelike klagte in teen Zuma-Sambudla oor beweerde handel in Suid-Afrikaanse mans na die Russiese oorlogsfront
# Krieket: Laura Wolvaardt word vir 2,1-miljoen-rand verkoop aan Delhi Capitals op die Vroue-Premierliga-veiling
# En matrieks word gevra om verantwoordelik fees te vier na die eksamen
# Die DA het strafregtelike klagtes teen die MK-party se parlementslid, Duduzile Zuma-Sambudla, ingedien en beskuldig oudpresident Jacob Zuma se dogter daarvan dat sy gehelp het met die mensehandel van jong Suid-Afrikaanse mans vir Rusland se oorlog in Oekraïne. Die party sê gesinne beweer kommunikasie met die mans is afgesny. Chris Hattingh van die DA sê hulle is volgens berigte in ‘n gevaarlike oorlogsone:
# Die omstrede sakeman Vusimusi “Cat” Matlala sê hy het die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, een keer in April by The Pearls of Umhlanga in die provinsie ontmoet om hulp te vra oor vertraagde betalings en ontbrekende bestellings. Matlala het in die Kgoši Mampuru-gevangenis in Pretoria voor die Parlement se ad hoc-komitee getuig hy het vir Mkhwanazi gesê hy vermoed korrupsie, en verdere omkopery-aantygings genoem. Matlala sê Mkhwanazi het gesê hy sal ingryp en die probleme oplos:
Nuus uit die buiteland:
# Venezuela het bedryfsregte van ses groot internasionale lugdienste herroep nadat hulle vlugte na die land opgeskort het ná ‘n waarskuwing van die Amerikaanse Federale Lugvaart-administrasie. Venezuela se burgerlike lugvaartowerheid het Iberia, TAP, Turkish Airlines, Avianca, Latam Colombia en Gol se permitte herroep. Die regering beweer hulle is aandadig aan staatsterrorisme wat Amerika bevorder deur kommersiële vlugte eensydig te stop. Die administrasie het groot lugdienste gewaarsku teen ‘n potensieel gevaarlike situasie indien hulle oor Venezuela vlieg as gevolg van die verslegtende veiligheidsituasie in die land.
# Krieket: Suid-Afrika se kaptein, Laura Wolvaardt, is vir 2,1-miljoen-rand aan Delhi Capitals verkoop tydens die veiling vir die Vroue-Premierliga, wat in Februarie in Indië begin. Capitals het die bodstryd teen die voormalige kampioen, Royal Challengers Bengaluru, gewen. Daar is vooraf verwag dat Wolvaardt ‘n gewilde keuse sou wees na haar briljante vertoning in die eendag-Wêreldbekertoernooi, waar sy ‘n rekord van 571 lopies aangeteken het. Sy het in die vorige twee seisoene vir Gujarat Giants gespeel en altesaam 342 lopies in 13 wedstryde geslaan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-272-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-158-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-69-sent per vat.
# En laastens: Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, waarsku matrieks wat formele Rage-makieties en partytjies bywoon om veilig en verantwoordelik fees te vier. Die laaste vraestel van die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen is gister geskryf. Maynier sê leerders wat hierdie partytjies bywoon, moet ‘n “buddy”-stelsel gebruik vir veiligheid, hulle waardevolle artikels goed oppas en heeltyd hul drankies dophou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….