Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party sê die staat se skisofreniese benadering tot geregtigheid vir apartheidslagoffers vereis ‘n behoorlike verduideliking
# Die Openbare Beskermer begin ‘n ondersoek na Bheki Cele se Wêreldbeker-plesiertog
# En, hokkie: Die Suid-Afrikaanse span gebruik skarebefondsing om in die Wêreldbekertoernooi te kan speel
# Die GOOD-party het die Departement van Justisie se aankondiging verwelkom dat vier veiligheidspolisielede uit die apartheids-era moet teregstaan vir die moord op die MK-kader, Jameson Mngomezulu, in 1985. Die party is ook tevrede met die heropening van die geregtelike ondersoek na die moord op die Cradock-vier – Mathew Goniwe, Sparrow Mkonto, Fort Calata en Sicelo Mhlauli – in 1985. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die Waarheids-en-versoeningskommissie het 21-jaar gelede in sy finale verslag sowat 300 sake na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys vir ondersoeke en vervolgings:
# Die DA verwelkom die Openbare Beskermer se ondersoek ná die besoek van die minister van Polisie, Bheki Cele, en sy assistent aan Parys vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi, wat na bewering deur ‘n ongeïdentifiseerde privaat maatskappy betaal is. Die party wil weet of Cele in stryd met die Wet op Etiek van Uitvoerende Lede opgetree het. Okkie Terblanche van die DA beplan om amptelik ‘n etiekklagte by die Parlement in te dien en voer aan Cele se optrede is in stryd met sy verpligtings en pligte as ʼn Parlementslid:
# Die Komitee vir Veiligheid en Sekerheid van die Afrika-unie vra vir selfbeheersing te midde van die spanning tussen Somalië en Ethiopië oor ʼn ooreenkoms met Somaliland, oor toegang tot die Rooisee. Die raad het magte van buite aangeraai om te hou by die beginsel van nie-inmenging in die interne aangeleenthede van lidlande. Die raad het ʼn beroep gedoen op Somalië en Ethiopië om die groeiende spanning te ontlont en om betekenisvolle gesprekke aan te knoop wat kan lei tot ʼn vreedsame oplossing. Die AU het sy sterk verbintenis en ondersteuning uitgespreek om die eenheid te bewaar, asook die soewereiniteit van alle lidlande.
# Hokkie: Die Suid-Afrikaanse Vroue Hokkie5-span maak staat op skarefinansiering om die nodige geld te bekom vir hulle deelname aan die Wêreldbekertoernooi in Muskat, Oman, vanaf Woensdag tot volgende Saterdag. Afrigter Tsoanelo Pholo het aan Newzroom Afrika gesê hoewel hulle gekwalifiseer het, benodig die span steeds 500-duisend-rand om uitgawes te dek aangesien hulle self moet befonds sonder regeringsbystand. Pholo benadruk die belangrikheid van finansiële bydraes van die publiek om die span in staat te stel om Suid-Afrika met trots te verteenwoordig op die toernooi:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-378-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-15-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-66-sent per vat.
# Ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het uiters hoë brandgevaarwaarskuwings uitgereik vir dele van die Wes-Kaap en die Noord-Kaap, met temperature van bo 40-grade Celsius. Die uiters hoë temperature en vogtigheid sal na verwagting tot môre voortduur en dele van die Namakwa-distrik raak. Die uitwerkings-gegronde waarskuwings sluit ook ‘n geel vlak twee-waarskuwing in vir ontwrigtende reën en potensiële oorstromings in Limpopo, en ‘n geel vlak een-waarskuwing vir golwe wat seevaart langs die Weskus sal beïnvloed tussen Kaap Columbine en Kaappunt.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….