Nuus 15:00
BULLETIN 15 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hoofregter waarsku die regbank is onder druk te midde van dreigemente op sosiale media
# Musa Khumalo word aangestel as waarnemende stadsbestuurder van Tshwane
# En krieket: JSK en Chennai is op soek na ‘n nuwe hoofafrigter nadat Stephen Fleming bedank
# Hoofregter Mandisa Maya sê Suid-Afrika se regbank verkeer onder ernstige druk en waarsku regterlike onafhanklikheid is steeds onafgehandel. Sy het onderbefondsing, personeeltekorte en toenemende agterstande uitgelig tydens die Regbank-konferensie in Durban. Maya is ook bekommerd oor waninligting op sosiale media wat vertroue in howe ondermyn. Sy vra groter onafhanklikheid en voldoende hulpbronne om die oppergesag van die reg te beskerm en die Grondwet te handhaaf:
# Activists and Citizens Forum sê hulle hoop ‘n voorlopige verslag wat na bewering verbind word aan die Parlement se ad hoc-komitee wat bewerings van misdaad-insypeling in die strafregstelsel ondersoek, is nie eg nie. Woordvoerder Dennis Bloem sê as die verslag eg is, sal dit die Parlement se geloofwaardigheid skaad en openbare vertroue ondermyn. Hy sê die verslag misluk om oortredings te identifiseer deur verskeie mense wat betrek word by bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi:
# Die Stad Tshwane het Musa Khumalo as waarnemende stadsbestuurder aangestel ná Johann Mettler vroeër die maand voorlopig geskors is te midde van bewerings van wangedrag. Die stad sê die raad het Khumalo se aanstelling maandeliks goedgekeur vir ‘n maksimum van drie maande. Khumalo was voorheen die stad se groepshoof vir Gedeelde Dienste. Die aanstelling is aangekondig deur die Aandelebeurs-nuusdiens ingevolge die mark se openbaarmakings-vereistes.
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het die termyn van Transnet se raad met ses maande verleng tot 11 Januarie, of tot ‘n nuwe raad aangestel word. Die termyn sou die afgelope Sondag verstryk het. Die nie-uitvoerende voorsitter, Andile Sangqu, en die huidige nie-uitvoerende direkteure sal tydens die verlenging in hulle ampte bly. Transnet se uitvoerende hoof, Michelle Phillips, en die finansiële hoof, Nosipho Maphumulo, sal ook voortgaan om as uitvoerende direkteure te dien.
# Krieket: Die SA20-span Joburg Super Kings asook die Indiese Premierliga-span Chennai Super Kings soek ‘n nuwe hoofafrigter nadat Stephen Fleming by albei bedank het. Hy was die afgelope 18 jaar by Chennai, eers as speler en toe as afrigter, en het vyf IPL-titels ingepalm. Die 53-jarige voormalige Nieu-Seelandse kaptein sê 18 jaar is ‘n leeftyd in sport en hy vertrek met groot dankbaarheid. Hy het tussen 1994 en 2008 altesaam 111 toetse, 280 eendagwedstryde en vyf T20’s vir die Swartpette gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-628-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-32-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 84-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….