Nuus 16:00
BULLETIN 9 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid lê beslag op luukse eiendom van Ramaphosa se neef in verband met die Tembisa-hospitaalskandaal
# Die geskorste adjunkkommissaris van polisie, Shadrack Sibiya, kan binnekort aangekeer word
# En sokker: Ronaldo is die sport se eerste dollar-miljardêr
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het beslag gelê op drie Lamborghini’s, ontwerpersmeubels en waardevolle kunswerke by die tenderpreneur Hangwani Maumela se drieverdieping-herehuis in Sandton, Johannesburg. Dis deel van ‘n bateherwinningsproses rondom 820-miljoen-rand se beweerde gekoördineerde sindikaatplundering by die Tembisa-hospitaal. President Cyril Ramaphosa se neef het na bewering voordeel getrek uit 41 ondernemings wat regeringstenders ontvang het. Bevele om verdere bates te bevries is reeds ingestel op sy eiendomme in KwaZulu-Natal en Kaapstad en al sy bankrekeninge. Amptenare sê die klopjag vorm deel van die voortgesette veldtog teen korrupsie in die openbare sektor.
# Die geskorste adjunkkommissaris van polisie, Shadrack Sibiya, kan volgens berigte binnekort in hegtenis geneem word. Die polisie het blykbaar vanoggend by sy huis in Centurion, Gauteng, aangekom om hom aan te hou vir beweerde dwarsboming van die gereg. Sy prokureur, Ian Levitt, sê hulle is nie ingelig wat die presiese aanklagte is nie. Nasionale kommissaris Fannie Masemola het Sibiya vroeër geskors oor bewerings dat hy saamgesweer het om die KwaZulu-Natalse taakspan vir politieke moorde te ontbind, wat Sibiya as ongegronde leuens afgemaak het.
# President Ramaphosa sê dis onaanvaarbaar dat ontwikkelende lande hoër skuldkoste betaal as ontwikkelde lande, en noem dit ‘n aandrywer van wêreldwye ongelykheid. Hy het op die Europese Unie se wêreldwye forum in Brussel, België, gepraat oor die hervorming van internasionale finansiële instellings en onthul Suid-Afrika het ‘n G20-komitee gestig om welvaart-ongelykheid aan te pak. Ramaphosa vra klimaatsbefondsings-ondersteuning, dat verpligtinge nagekom word en regverdiger mineraalontwikkeling om plaaslike ekonomieë te bevoordeel:
# Sokker: Portugal se kaptein, Cristiano Ronaldo, is bevestig as die sport se eerste dollar-miljardêr. Die finansiële inligtings- en mediamaatskappy Bloomberg het die 40-jarige speler se rykdom die eerste keer gemeet en stel sy netto-waarde op 1,4-miljard-dollar – of 24,3-miljard-rand. Dit sluit in salarisse, beleggings en borgskappe, insluitend ‘n borgskap van tien jaar met Nike wat 308-miljoen-rand per jaar werd was. Ronaldo het in 2022 die bes-betaalde speler in die geskiedenis geword toe hy by die Saoedi-Arabiese span Al-Nassr aangesluit het vir meer as vier-miljard-rand per seisoen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 22-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 123-duisend-111-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-40-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-87-sent per vat.
# En laastens, die Hongaarse skrywer László Krasznahorkai het 2025 se Nobelprys vir Letterkunde gewen. Die Koninklike Sweedse Akademie het sy visioenêre en boeiende werk geprys, wat die krag van kuns te midde van rampspoedige en uitdagende temas verken. Steve Sem-Sandberg van die Nobelkomitee sê Krasznahorkai, aangespoor deur sy reise na China en Japan, is bekend vir sy lang, verbeeldingryke stories met vreemde en uitsonderlike karakters:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….