Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SADOU sê die tekort aan onderwysers bly ‘n uitdaging
# Die DA vra ‘n volledige verslag oor die Transnet-spoorvragbotsing
# En, tennis: Die meeste topgekeurdes vorder in die Australiese Ope
# Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersvakbond het toenemende kommer uitgespreek oor die onvoldoende aantal onderwysers in skole. Die hoofsekretaris, Mugwena Maluleke, het in ‘n onderhoud met eNCA die voortdurende wanbalans in die leerder-tot-onderwyser-verhouding uitgelig, wat lei tot oorbesette klaskamers. Hy beklemtoon die noodsaaklikheid vir die nasionale en provinsiale Tesourie om onderwys voorop te stel as ‘n deurslaggewende faktor vir ‘n beter toekoms. Maluleke beklemtoon onderwysers benodig ondersteuning en voldoende hulpbronne om ‘n gladde opvoedkundige ervaring vir leerders te verseker:
# Die DA eis Transnet Spoorvrag moet die onlangse botsing tussen twee vragtreine gelaai met steenkool naby Richardsbaai in KwaZulu-Natal met deursigtigheid hanteer. Die party vra die openbare vrystelling van die volledige ongeluksverslag, gereelde inligting oor die opruimingsproses en duidelike tydlyne met die herstel van die steenkool-uitvoerlyn wat geraak word. ‘n Woordvoerder van die DA, Mimmy Gondwe, is krities oor die vertraagde tempo met digitalisering van die spoorlyn en het kommer uitgespreek oor die potensiaal vir logistieke krisisse met die handmatige opsporingstelsel.
# Die Vryheidsfront Plus in Tshwane sê hy is reeds besig om saam met die metro se Gesondheidsafdeling voorkomende maatreëls in te stel om ‘n moontlike cholera-uitbreking te bestuur. Twee cholera-gevalle is in Limpopo aangemeld, maar nog niks sover in Tshwane nie. Rina Marx van die VF-Plus sê ‘n dringende beroep word op inwoners gedoen om fyn op te let vir cholera-simptome:
# Saoedi-Arabië het tydens die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, sy oproep vir ‘n onmiddellike wapenstilstand in Gaza herhaal, sowel as ‘n einde aan die toenemende onbestendigheid in die Rooi See. Saoedi-Arabië se minister van Buitelandse Sake, prins Faisal bin Farhan bin Abdullah, het tydens ‘n sitting oor die beveiliging van ‘n onsekere wêreld gesê die onmiddellike krisis, naamlik die lyding wat in Gaza plaasvind, moet voorkeur kry. Hy doen ‘n beroep op die internasionale gemeenskap om blywende vrede in die streek te help skep deur die stigting van ‘n Palestynse staat.
# Tennis: Verskeie top-tien-spelers het vandag in die tweede ronde van die Australiese Ope gespeel, en daar was maklike oorwinnings vir die plaaslike speler Alex de Minaur, die Italianer Jannik Sinner en die Rus Andrey Rublev. Stefanos Tsitsipas van Griekeland het vier stelle nodig gehad om te wen. Onder die vroue het die wêreld nommer twee, Aryna Sabalenka van Belarus, maklik deurgedring na die derde ronde, saam met die vierde-gekeurde Amerikaner Coco Gauff, wat haar landgenoot Caroline Dolehide verslaan het. Die 19-jarige is tevrede met haar vertoning:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-71-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-630-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-27-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….