Nuus 16:00
BULLETIN 1 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie trek ‘n aansoek vir Khan se in camera-getuienis terug
# Die Lufthansa-groep brei Suid-Afrikaanse vlugte uit
# En krieket: Kapp sê die Proteas wil Suid-Afrika se gemoedere lig nadat Bafana uit die Wêreldbekertoernooi geskakel is
# Die Madlanga-kommissie het die geskorste adjunkhoof van Misdaadintelligensie, generaal-majoor Feroz Khan, se aansoek om getuienis agter geslote deure teruggetrek. Khan se regspan het bevestig hy is in ‘n bedenklike toestand in die hospitaal nadat hy geskiet is en kan nie opdragte gee nie. Die kommissie se voorsitter, Mbuyiseli Madlanga, het advokaat Zubair Khan aangesê om die aansoek terug te trek en weer met behoorlike motivering in te dien:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik vra die regering om dringend duidelikheid te gee oor vandag se beplande instelling van die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdade, aangesien verskeie munisipaliteite hof toe gegaan het om dit te betwis. Stefanie Fick van OUTA sê belangrike regulasies is nog nie gepubliseer nie, terwyl gereedheidsverslae en uitrolplanne steeds uitstaande is. Fick het bygevoeg verkeersveiligheid benodig beter wetstoepassing en afdwinging, nie ‘n gejaagde stelsel nie:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, sê die departement het die afgelope vier jaar reuse-vordering gemaak om sy doelwit van gehalte-onderwys vir elke leerder te verwesenlik. Maynier word die nuwe nasionale minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing ná president Cyril Ramaphosa se kabinetskommeling. Maynier sê een van die departement se groot prestasies tydens sy ampstermyn was die #BackOnTrack-program, wat die grootste leerherstelprogram in die land is:
# Die Duitse lugrederygroep Lufthansa het sy grootste Suid-Afrikaanse winter-vlugrooster ooit aangekondig vir die 2026/27-seisoen. Langafstandvlugte tussen Suid-Afrika en Europa word vanaf laat Oktober verhoog tot 38 weeklikse vlugte. Lufthansa voeg ook vlugte tussen München en Gauteng by, wat die roete tot vyf weeklikse dienste verhoog, terwyl die roete tussen Frankfurt en Kaapstad ‘n daaglikse diens sal word. SWISS sal nuwe Airbus A350-vliegtuie op sy roete tussen Zürich en Gauteng bekendstel, terwyl Edelweiss sal voortgaan met tot vyf weeklikse regstreekse vlugte tussen Zürich en Kaapstad.
# Krieket: Die veelsydige veteraan, Marizanne Kapp, sê die Protea-vrouespan is gretig om Suid-Afrika se gemoedere te lig nadat Bafana Bafana uit die Wêreldbeker-sokkertoernooi geskakel is. Die Proteas speel môre teen die mede-gasvrou, Engeland, in die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi. Kapp sê hul hoofdoel was nog altyd om ‘n Wêreldbeker vir Suid-Afrika te wen, aangesien niks die land so bymekaarbring soos sport nie. Môre se wenner sal Sondag teen Australië in die eindstryd speel nadat die sesmalige kampioen die Wes-Indiese Eilande in gister se eerste halfeindstryd verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-413-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-26-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….