Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ondersoek na die dood van die Cradock-vier heropen
# Verbruikers gemaan om reg te maak vir nog kosprysverhogings in 2024
# En, rugby: Die Haaie maak vyf veranderings vir hulle wedstryd teen die Leeus
# Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola het goedkeuring gegee vir die heropening van die ondersoek na die dood van die Cradock-vier, in reaksie op ‘n aanbeveling deur die Nasionale Vervolgingsgesag. Die ondersoek na die dood van die anti-apartheid aktiviste Matthew Goniwe, Sparrow Mkonto, Fort Calata en Sicelo Mhlauli gaan heropen word weens teenstrydighede in vorige ondersoeke. Nuwe bewyse, wat amnestie-aansoeke deur veiligheidspolisiebeamptes insluit, sal nou in ag geneem word. Die stap is gemik op afsluiting vir die families en die herstel van vertroue in die regstelsel.
# Die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group maan verbruikers om voor te berei vir nog voedselprysstygings vroeg hierdie jaar. Die koördineerder van die groep, Mervyn Abrahams, het onthul kosprysverhogings is die hoogste in 14 jaar, met voedselinflasie wat jaar-tot-jaar met nege-persent opgeskiet het. Abrahams het aan Newzroom Afrika gesê voedselinflasie is ‘n primêre bydraer tot die oorhoofse inflasie in Suid-Afrika. Hy maan dat die prys van rys, mieliemeel, eiers en aartappels steeds styg:
# Die N3-tolkonsessie sê piek-verkeer sal na verwagting die naweek op die N3-tolroete tussen KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Gauteng voortduur met meer vakansiegangers wat terugkeer huis toe. Besige verkeer is dié week ondervind, met op sy ergste tussen een-duisend en een-duisend-900 voertuie per uur wat noordwaarts na Gauteng beweeg het. Die bedryfsbestuurder van die N3-tolkonsessie, Thania Dhoogra, sê padgebruikers moet veral swaar noordwaartse verkeersvolumes verwag, wat moontlike opeenhoping en vertragings op Sondag tussen nege die oggend en ses-uur die middag insluit:
# Rugby: Die Haaie is gashere vir die Leeus in hulle eerste wedstryd van die jaar wanneer hulle môre in die agste ronde van die Verenigde Rugbykampioenskap teen mekaar te staan kom. Die hoofafrigter van die Haaie, John Plumtree, het Fez Mbatha op haker gekies met Kerron van Vuuren wat skuif na die bank, terwyl Hanro Jacobs vir Coenie Oosthuizen op stut vervang. Eben Etzebeth is terug na ‘n maagaandoening en sy slotmaat is Gerbrandt Grobler, wat terugkeer na ʼn besering. Die enigste verandering in die agterlyn is Grant Williams en Jaden Hendrikse wat plekke ruil op skrumskakel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-853-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-38-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-99-sent per vat.
# Ten slotte: Suid-Afrika word deur EnjoyTravel-punt-com sterk aanbeveel as een van die 24 bestemmings vir reisigers wat in 2024 die natuur weer behoorlik wil ervaar. Die land word ook ten spyte van sy drinkgewoontes en wynbedryf aanbeveel as bestemming vir reisigers wat nie drink nie. Die lyste is saamgestel ná ‘n omvattende evaluering van datagedrewe neigings, menings van sy gehoor en insigte van die redaksionele span. Reisigers het Suid-Afrika as ideale bestemming gekies waar hulle kan detoks en avontuur-aktiwiteite soos safari’s en die natuurskoon kan ervaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….