Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is………
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa kondig meer as 124 dae sonder beurtkrag aan
# BLSA loof nuwe wetgewing as die sleutel om beleggers te lok
# En, die Olimpiese Spele: Raducanu sê om in Parys te speel sou een te veel gewees het vir haar liggaam
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, skryf meer as 124 dae sonder beurtkrag toe aan verbeterde beskikbaarheid en strategiese planne. Hy het op ‘n nuuskonferensie oor die kragkrisis erken die stelsel bly kwesbaar. Ramokgopa gee Eskom egter krediet vir die oplossing van die kwessie van vraag wat opwekking oorskry, wat lei tot meer bestendige kragvoorsiening:
# Die uitvoerende hoof van Business Leadership South Africa, Busi Mavuso, het die belangrikheid uitgelig van onlangse wetgewing wat deur president Cyril Ramaphosa bekragtig is. Sy glo die voortsetting van beleidshervorming speel ‘n belangrike rol om beleggers te lok. Die nuwe Wet op Klimaatsverandering stel sektor-spesifieke teikens vir koolstofvermindering, terwyl die Wet op Openbare Verkryging die staatsverkrygingsproses wil hervorm. Daarby vereenvoudig wysigings aan die Wet op Maatskappye die diskwalifikasie van direkteure en vereis volledige bekendmaking van salarisgapings. Mavuso noem dié wetgewende veranderings tekens van ‘n positiewe verskuiwing na ‘n meer beleggervriendelike omgewing.
# Die Reguleringsowerheid vir die Privaatsekerheidsbedryf neem kennis van die voortgesette belangstelling en navrae oor die beweerde onwettige militêre opleidingsbedrywighede op ‘n plaas in Witrivier, Mpumalanga, wat deur Milites Dei-sekerheidsdienste verskaf is. PSiRA se woordvoerder, Mpho Sechoaro, sê die reguleringsliggaam kan geen onderhoude toestaan nie weens die voortgesette ondersoeke. Sechoaro sê PSiRA vertrou hierdie ondersoeke sal teen die einde van die week afgehandel wees:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, vra ‘n dringende, gesamentlike poging om internasionale samewerking te bevorder om uiterste hitte aan te pak. Meer as 70-persent van die wêreld se werksmag kan aan uiterste hitte blootgestel word. Guterres sê dit beïnvloed ekonomieë, vererger ongelykheid, ondermyn die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte en eis lewens:
# Olimpiese Spele: Die tennisspeler Emma Raducanu het haar besluit verdedig om nie vir Span Groot Brittanje in Parys te speel nie, en sê die verandering van oppervlakte sou net te veel gewees het. Die 21-jarige het met ‘n vlaag beserings gesukkel sedert sy in 2021 opslae gemaak het deur die Amerikaanse Ope te wen. Raducanu sê dit is te veel gevra om te speel op die kleibane van die Franse Ope, dan die grasbane van Wimbledon en terug na klei vir die Spele voor die begin van die hardebaanseisoen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-415-dollar-31-sent. Die prys van goud is twee-duisend-387-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….