Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA is bereid tot kwessie-vir-kwessie-samewerking indien die regering van nasionale eenheid nie bereik word nie
# Ramaphosa onderteken ‘n wet waarvolgens e-taxidienste bedryfslisensies kan kry
# En, rugby: Chasing the Sun 2 is oor die langnaweek vir alle DStv-intekenare beskikbaar
# Build One South Africa is bereid om op ‘n kwessie-vir-kwessie-grondslag met ander partye saam te werk indien die regering van nasionale eenheid nie ‘n werklikheid word nie. Volgens die party fokus hulle daarop om strukture vir toekomstige verkiesings op te rig en dit bevestig ‘n langtermyn verbintenis tot die politieke landskap in Suid-Afrika. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê hierdie benadering is in ooreenstemming met hulle verbintenis tot beginsels van nie-rassigheid, grondwetlike regering , geregtigheid en etiese leierskap.
# President Cyril Ramaphosa het die gewysigde Wet op Nasionale Landvervoer onderteken, wat e-taxi-operateurs toelaat om soos ander openbare vervoeroperateurs vir bedryfslisensies aansoek te doen. Die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga, het die wetgewing verwelkom, wat nou na 13 jaar se wag ook vir e-taxidienste voorsiening maak. Die departement se woordvoerder, Collen Msibi, sê die nuwe regulasies sal binnekort gefinaliseer en in gebruik geneem word:
# Mercedes-Benz Suid-Afrika beplan om weens die hawekrisis 700 poste by sy vervaardigingsaanleg in Oos-Londen te besnoei, wat ‘n kwart van sy werksmag is. News24 berig die motorvervaardiger, wat C-klas-sedans vir globale uitvoer vervaardig, skryf die besluit toe aan verslegtende ekonomiese toestande, logistieke struikelblokke en ‘n swakker verbruiker-sentiment. Die maatskappy het met onderhandelings begin om sy bedrywighede te herstruktureer en kan dalk skofte van drie tot twee verminder. Dit is daarop gemik om langtermyn volhoubaarheid te verseker, en Mercedes oorweeg ook maatreëls soos vroeë aftrede en vrywillige skeidingspakkette.
# Die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekers weerspreek onlangse navorsingsbevindings oor suikerbelasting-werksverliese, en verwys na teenstrydighede in bedryfsdata. Hulle sê die studie deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad wanverteenwoordig die uitwerking van die suikerbelasting op indiensnemingsyfers omdat breër landbousektordata gebruik word. Die voorsitter, Higgins Mdluli, is bekommerd oor die suikerbedryf se toekomstige lewensvatbaarheid en die uitwerking op mense se voortbestaan, en verwys na onafhanklike studies wat dui op werksverliese, veral onder kleinskaalse suikerboere:
# Rugby: DStv het aangekondig sy reeks oor die Springbokke se tweede agtereenvolgende Wêreldbeker-triomf sal oor die langnaweek vir alle intekenare beskikbaar wees. Die reeks van vyf aflewerings, Chasing the Sun Two – A Story for South Africa, word van Saterdag tot Maandag gewys op SuperSport Variety en Mzansi Wethu. Een van die uitvoerende vervaardigers, die uitvoerende hoof van SuperSport, Rendani Ramovha, sê om die storie vir ‘n groter gehoor beskikbaar te maak is een van die redes wat die reeks ‘n ware Suid-Afrikaanse verhaal maak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-772-dollar-55-sent. Die prys van goud is twee-duisend-307-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….