Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die uitgeskopte stigter van die MK-party word uitgesluit van die Parlement se eerste sitting
# Die National Freedom Party is gretig om deel te wees van die regering van nasionale eenheid
# En, ‘n tafeltennisspeler word ide eerste Brasiliaan om aan die Olimpiese en Paralimpiese Spele deel te neem
# Die sekretaris van die Parlement, Xolile George, het die uitgeskopte stigter van die MK-party, Jabulani Khumalo, ingelig hy kan nie Vrydag die eerste sitting van die Nasionale Vergadering bywoon nie. George het korrespondensie van die party aangehaal wat ‘n uiteensetting bied oor die interne prosesse wat gevolg is om Khumalo van hul parlementêre lys te verwyder. Dit volg nadat Khumalo sy voorneme verklaar het om dit by te woon ondanks die party se besluit om die eerste sitting te boikot weens ontevredenheid oor die verkiesinguitslae.
Die National Freedom Party is intussen gretig om deel te wees van die samestelling van ‘n regering van nasionale eenheid en waardeer die uitnodiging van die ANC om deel te wees van die onderhandelings. Die NFP aanvaar die oorgang na die sewende administrasie en sien uit na Vrydag se eerste sitting van die Nasionale Vergadering. Partyleier Ivan Barnes sê die party is verbind tot goeie regering, respek vir die Grondwet en die uitskakeling van bedrog en korrupsie:
# ‘n Kriminoloog, professor Jaco Barkhuizen, sê die probleem met korrupsie in wetstoepassing is dat dit vertroue in die polisie knou en dat dié vertroue tans baie laag is. Twee Tshwane-metropolisiebeamptes is afgedank weens hul teistering van die gemeenskap van Centurion in Pretoria. Talle inwoners het daaroor gekla. Barkhuizen sê die optrede teen korrupte wetstoepassingsbeamptes is ‘n positiewe teken, maar baie meer moet omtrent die kwessie gedoen word.
# Malawi is in rou nadat die visepresident, Saulos Chilima, en nege ander mense in ‘n militêre vliegongeluk gesterf het. President Lazarus Chakwera het die nuus tydens ‘n nuuskonferensie bevestig nadat die wrakstukke van die vliegtuig in die Chikangawa-woud in Mzimba gevind is. Chilima en die ander was onderweg om die regering te verteenwoordig op die begrafnis van die voormalige kabinetsminister, Ralph Kasambara. Chakwera het sy medelye betuig met die gesinne en geliefdes van die slagoffers:
# Olimpiese Spele: Die Brasiliaanse tafeltennisspeler, Bruna Alexandra, is die eerste atleet uit die land wat aan die Olimpiese én die Paralimpiese Spele gaan deelneem. Die 29-jarige het haar arm weens ‘n bloedklont verloor toe sy ‘n paar maande oud was, maar het op die ouderdom van sewe aan die sport begin deelneem. Alexandra het in 2016 twee bronsmedaljes gewen op die Paralimpiese Spele in Rio, en silwer en brons in Tokio. Die Suid-Afrikaners Natalie du Toit en Oscar Pistorius het vroeër ook aan albei Spele deelgeneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-78-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-312-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….