Nuus 16:00
BULLETIN 10 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Amerikaanse hof bevind Ace Magashule se voormalige assistent kan uitgelewer word
# Al Jama-ah waarsku die ANC teen die terugkeer van ‘n wit bewind in ‘n regering van nasionale eenheid
# En, krieket: Die Proteas jaag ‘n derde oorwinning in New York vir ‘n plek in die Super 8
# ‘n Amerikaanse hof het beslis die gewese persoonlike assistent van die voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule, kan uitgelewer word. Die Distrikshof in Maryland het genoeg bewyse gevind in die Nasionale Vervolgingsgesag se bedrog- en korrupsie-saak teen Moroadi Cholota. Sy bly in aanhouding terwyl die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, besluit oor die uitlewering. Cholota is ‘n sleutelgetuie in die asbes-tenderskandaal van 255-miljoen-rand waarin Magashule en mede-aangeklaagdes beskuldig word van die ontvangs van 27-miljoen-rand se omkoopgeld uit ‘n projek vir die verwydering van skadelike asbes uit huise.
# Al Jama-ah se leier, Ganief Hendricks, het die ANC gewaarsku teen die vorming van ‘n regering van nasionale eenheid, en waarsku dit kan tot die terugkeer van wit bewind lei. Hendricks het beklemtoon die regering van nasionale eenheid sal swart ekonomiese beheer en herstelwerk ondermyn. Hy het kommer uitgespreek en sê dit sal ‘n agteruitgang beteken na apartheidsera-ongelykhede en ware vryheid vertraag:
# Die Instituut vir Sekerheidstudies glo Suid-Afrika het die nodige vaardighede en bronne om wetstoepassing en veiligheid te verbeter. Die instituut sê met toegewyde leierskap deur die president en die minister van Polisie kan hervormings lei tot ‘n gemotiveerde en vertroude Polisiediens, verlaagde misdaadsyfers en beter openbare veiligheid. Hy sê praktiese stappe sluit in ingryping in die werwingsprogram, integriteitsverbetering en ‘n fokus op die belangrikste oortreders. Dit kan openbare vertroue herstel en Suid-Afrika veiliger maak. Die instituut stel op 27 Junie uitgebreide aanbevelings voor om die land se veiligheidstrajek te hervorm.
# President Emmanuel Macron sê hy is vol vertroue die Franse sal reg kies in die blitsverkiesing wat hy afgekondig het, nadat die verregses sy sentristiese alliansie in ‘n EU-stemmery verslaan het. Baie beskou Macron se stap as ‘n hoërisiko dobbelspel, wat daarop gemik is om die verregse National Rally uit te skakel, wanneer sy tweede termyn in 2027 eindig. Macron het laat gister aangekondig Frankryk stem op 30 Junie vir ‘n nuwe Nasionale Vergadering, met ‘n tweede ronde op 7 Julie.
# Krieket: Suid-Afrika speel vanmiddag teen Bangladesj in hulle derde wedstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi. Dit is die derde agtereenvolgende kragmeting vir die Proteas in New York. Die stadion het wedstryde met lae tellings opgelewer, maar die Suid-Afrikaners het tot dusver altwee gewen. Kaptein Aiden Markram weet ‘n oorwinning vandag sal hulle ‘n plek verseker in die Super 8-ronde, met nog ‘n wedstryd oor:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-374-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-305-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….