Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa stel Ramokgopa aan as waarnemende minister van Sport
# Kommer oor die groot aantal bedorwe stembriewe in die verkiesing
# En, krieket: Sri Lanka kla oor sy behandeling by die T20-Wêreldbekertoernooi
# President Cyril Ramaphosa het minister Maropene Ramokgopa aangestel as waarnemende minister van Sport, Kuns en Kultuur. Sy is tans minister in die Presidensie belas met Beplanning, Monitering en Evaluering. Ramokgopa vervang Zizi Kodwa, wat dié week bedank het na sy hofverskyning op aanklag van korrupsie. Woordvoerder Vincent Magwenya sê Ramokgopa sal waarneem tot ‘n permanente aanstelling gedoen word in die nuwe sewende administrasie:
# Verskeie politieke partye het kommer uitgespreek oor die groot aantal bedorwe stembriewe in verlede week se verkiesing. Hulle versoek baie meer klem op kiesersopvoeding om die stemme, wat nou vermors is, te verminder. BOSA se leier, Mmusi Maimane, bepleit die instel van kiesersopvoeding by die hoërskool-leerplan om toekomstige kiesers beter voor te berei en te verseker hul stemme tel:
# ‘n Veertigjarige man wat aangekla word van die moord op sy meisie, die bekende sjef, Thembekile Letlape, ook bekend as die Pastry Princess, beweer die moord was ‘n fout. Sibusiso Zitha was vandag vir die tweede keer in die Landdroshof in Randburg, Gauteng, waar die saak tot Donderdag uitgestel is. Letlape se pa, die voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, Kgosi Letlape, het verlede week op haar liggaam afgekom by Zitha se huis in Fourways. Sy word vandag te ruste gelê.
# Die Europese Kommissie gaan hierdie maand Europese Unie-toetredingsgesprekke met Oekraïne aanbeveel en toon daarmee sy steun vir die oorloggeteisterde land. Oekraïne het aansoek gedoen om EU-lidmaatskap ná Rusland se inval in 2022 en is kort daarna kandidaatstatus toegestaan. België wil ‘n ooreenkoms bereik voor Hongarye die EU se presidentskap oorneem, aangesien die land se bande met Rusland kan lei tot besware teen Oekraïne se toetreding, veral rondom taalkwessies. Oekraïne se nakoming van sleutelkriteria, insluitend teen-korrupsiemaatreëls, sal vandag verklaar word, wat sy pad na EU-integrasie sal bevorder.
# Krieket: Sri Lanka het by die Internasionale Krieketraad beswaar aangeteken oor die behandeling van sy T20-Wêreldbekerspan, asook behandeling deur die medegasheer, Amerika. Die minister van Sport, Harin Fernando, beweer ander spanne is beter daaraan toe en sê Sri Lanka het formeel beswaar gemaak nadat sy span se vlug sewe uur lank op ‘n lughawe in Florida opgehou is. Hy sê ook Sri Lanka se verblyf in New York is meer as 90 minute se ry van die oefenstadion, terwyl Indië se span veel nader tuisgaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-913-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-336-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….