Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Brandstofpryse daal skerp om middernag
# Die DA verwelkom die Hooggeregshof se uitspraak oor Gayton McKenzie se fondsinsameling
# En, krieket: Die New Yorkse kolfblad word gekritiseer na ‘n laetelling-wedstryd in die T20-Wêreldbekertoernooi
# Motoriste gaan om middernag ‘n skerp daling in brandstofpryse sien. Die minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe, het die aanpassings aangekondig, gegrond op huidige plaaslike en internasionale faktore. Albei grade petrol daal met een-rand-24-sent per liter, en diesel met een-rand-9 en een-rand-19-sent- per liter. Groothandel-lampolie word 80-sent per liter goedkoper met verbruikers wat een-rand-sewe-sent minder gaan betaal. Vloeibare gas se prys daal met een-rand-50 per kilogram. Die maandelikse aanpassing word toegeskryf aan internasionale oliepryse en invoerkoste van olie.
# Die DA verwelkom die besluit van die Wes-Kaapse Hooggeregshof wat vereis die president van die Patriotic Alliance, Gayton McKenzie, moet verantwoording doen vir geld wat hy by ‘n geleentheid in Sandton ingesamel het toe hy burgemeester van die Sentraal-Karoo Distriksmunisipaliteit was. Die party sê McKenzie het beweer die geld is bedoel vir die verbetering van dienslewering, maar hy het kort daarna bedank sonder die beloofde verbeterings. ‘n Woordvoerder van die DA, Tertuis Simmers, dring daarop aan McKenzie moet dringend verduidelik hoe die geld bestee is:
# ‘n Pasgebore baba wat vroeër vanjaar in ysige toestande in Londen gevind is, het twee sibbe wat ook in vorige jare in soortgelyke omstandighede gevind is. Die meisie, wat die hospitaalpersoneel Baba Elsa noem, was in ‘n handdoek toegedraai en in ‘n inkopiesak gelos toe ‘n hondestapper haar in Januarie gevind het. DNS-toetse het sedertdien gewys sy het ‘n broer en suster, bekend as Baba Harry en Baba Roman, wat in 2017 en 2019 in dieselfde gebied gevind is. Die Londense Metropolisie probeer nou om die identiteit van die ouers vas te stel.
# Krieket: New York se debuut as gasheer vir die T20 Wêreldbekertoernooi het gesorg vir ‘n wedstryd met besonder lae tellings tussen Suid-Afrika en Sri Lanka. Sri Lanka is vir slegs 77 uitgeboul en die Proteas het ‘n gemaklike oorwinning met ses paaltjies behaal. Volgens kenners is ‘n wedstryd met lae tellings nie noodwendig die beste begin vir ‘n toernooi wat veronderstel is om die Amerikaanse mark te lok nie. Anrich Nortjé, wat vier paaltjies vir Suid-Afrika laat kantel het, glo egter ‘n wedstryd met lae tellings kan ook opwindend wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-961-dollar-8-sent. Die prys van goud is twee-duisend-329-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-5-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse sangeres en liedjieskrywer Cyndi Lauper gaan van Oktober tot Desember ‘n afskeidstoer onderneem, wat ook haar eerste groot toer in tien jaar sal wees. Die 70-jarige Lauper sal op die The Girls Just Wanna Have Fun-toer in 23 stede regoor Noord-Amerika optree. Dit skop op 18 Oktober in Montreal, Kanada, af. Lauper het twee maal ‘n Grammy ontvang en is veral bekend vir Girls Just Want to Have Fun en Time After Time.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….